Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie, Patrick Dlamini, is voorlopig geskors nadat inligtng van ‘n fluitjieblaser ontvang is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners moet op Mandela-dag opnuut fokus op die stryd teen armoede, ongelykheid en ongeregtigheid.
En tweedens skryf die webblad ‘n Suid-Afrikaanse man is op die Soewarnabhoemi-lughawe in Bangkok vasgetrek nadat 17,5-kilogram heroïen in sy bagasie gevind is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die woordvoerder van die KwaZulu-Natal Departement van Onderwys, Muzi Mahlambi, en sy vrou, die Umlazi Distriksdirekteur Metu, het ‘n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle om verskoning vra vir ‘n omstrede video op sosiale media. Die opname is van ‘n huishoudelike geskil waartydens Metu ernstige bewerings teen die onderwyswoordvoerder maak.
# Sowetan:
Berig oor die talle onderbrekings waaraan die Madlanga-kommissie onderwerp word deur getuies wat redes aanvoer hoekom hulle nie kan verskyn nie. In die jongste geval het die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, advokaat Andrea Johnson, gister nie opgedaag nie en bloot ‘n mediese sertifikaat ingedien. Regter Mbuyiseli Madlanga het daarna verwys as ‘n “nuttelose sieknota”. Sy is die negende getuie wat die kommisse se werksaamhede so vertraag.
# En The Citizen:
Skryf Suid-Afrika se vuurwapenregistrasiestelsel is besig om in duie te stort. Die hernuwing van wapenlisensies het met 74-persent gedaal en die registrasieproses is disfunksioneel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Sowetan oor die onderbrekings in die werksaamhede van die Madlanga-kommissie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-metro verloor honderde ure as gevolg van voortdurende mediese verlof deur werknemers.
En skryf tweedens, die Bafana-kaptein, Ronwen Williams, het ‘n heldeontvangs gekry in Gelvandale.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n smeulende brand by die vullisstortingsterrein in Pietermaritzburg veroorsaak lugbesoedeling in woongebiede.
En tweedens word berig die ommeswaai van die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala oor sy pleitooreenkoms het die staat onkant betrap. Matlala het die 12 jaar vonnis in die ooreenkoms verwerp.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Padfondsadministrasie het gewaarsku Namibiërs moet gereed maak vir geleidelike verhogings in padgebruikerstariewe namate die vraag na padinfrastruktuur groei.
En tweedens skryf die koerant die minister van Stedelike en Landelike Ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, het gewaarsku plaaslike owerhede wat versuim om opgedateerde en geouditeerde finansiële state in te dien nie begrotingstoekennings van die regering sal ontvang nie.