Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Tesourie stel ondersoek in na transversale kontrakte. Dit volg nadat bewyse wat deur die Madlanga-komissie op ’n foon gevind is ‘n voormalige hoofdirekteur, Molefe Fani, met vermeende omkoopgeld en kontrakmanipulasie verbind.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, het erken dat die stad minder as twee weke se kontant in die bank het. Dit volg nadat die Tesourie betalings aan 69 munisipaliteite opgeskort het, waarvan Johannesburg een is.
En tweedens skryf die webblad die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê besnoeiings in die gesondheidsektor laat slegs slagoffers agter.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf vyf lede van die polisie se Sigbare Polisiëringstaakspan het in die Vanderbijlpark-streekhof verskyn op ‘n aanklag van korrupsie nadat hulle na bewering omkoopgeld van 100-duisend-rand van ‘n supermark-eienaar geëis het om inhegtenisneming te vermy.
# Sowetan:
Berig die regering sê in die lig van die Ebola-uitbreking in die DRK is hy gereed om enige voorvalle in Suid-Afrika te hanteer. Altesaam 36 hospitale is voorbereid vir Ebola-gevalle en die Grensowerheid is op die uitkyk vir enige moontlike voorvalle.
# En The Citizen:
Lei met: “BEWARE THE TSOTSIS IN SUITS”. Die koerant skryf die EFF het die Palement versoek om dringend ondersoek in te stel na die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Hlengani Mathebula, se beweerde reiskoste van 200-duisend-rand.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens die Haaie se Junior Springbok-stut, Kai Pratt, het positief getoets vir ‘n anaboliese steroïde. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport het die positiewe toets bevestig.
Dan skryf die koerant daar heers groot ongelukkigheid by die munisipaliteite wie se uitbetalings weerhou is as gevolg van finansiële wanbestuur. Verskeie politieke partye en vakbonde het die regering gekritiseer en sê dienslewering by munisipaliteite sal nou nog verder agteruitgaan.
En laastens is daar nuus oor mense wat vergiftig word deur wilde sampioene. Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het gewaarsku nadat vyf gevalle reeds aangemeld is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Williams, sê om Nelson Mandelabaai te red is soos om ‘n vark uit die modder te red.
En tweedens skryf die koerant ‘n professor word nou ook betrek by die hofsaak oor vals kwalifikasies.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die 15-jarige inwoner van Zimbali wat glo probeer het om die Ballito Junction-winkelsentrum op te blaas, is vrygelaat. Hy het voor die voorval sy manifes op Telegram gedeel waarin hy sy hartseer lewensverhaal vertel.
En tweedens word berig die Tesourie het sy stappe teen munisipaliteite verdedig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig net 65-persent van gegradueerdes in Namibië kry werk. Volgens die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys het indiensneming gedaal van 83-persent in 2017.
Tweedens skryf die koerant die agterstand in die verwerking van vingerafdrukke het weer na vore gekom nadat die polisie bevestig het dat die bedrog- en moordbeskuldigde, Abner Mateus, agt hangende strafsake teen hom het, waarvan nog nie een tot ’n skuldigbevinding gelei het nie.
En laastens word berig ’n vrou het in die Swakopmund-landdroshof verskyn in verband met ’n beweerde skema waarin sterftes vervals is om versekeringsuitbetalings te eis.