Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Julie 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Tesourie het die fondse van 69 munisipaliteite landswyd bevries weens finansiële wanbestuur. Die koerant skryf die fondse vir Julie vir stede soos Johannesburg en Buffalo City word teruggehou om fiskale dissipline af te dwing.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die DA in Tshwane het die Hooggeregshof in Pretoria genader om ‘n besluit van die metroraad te hersien om die onderburgemeester, Eugene Modise, te beskerm nadat ‘n forensiese ondersoek bevind het hy het nie sy belange in ‘n veiligheidsmaatskappy verklaar nie.

En tweedens skryf die webblad prins Harry van Brittanje het sy hofsaak teen die Daily Mail oor privaatheidskending verloor. Die Hooggeregshof in Londen het die saak van die hand gewys.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf oor ‘n video wat soos ‘n veldbrand versprei het nadat ‘n groep Suid-Afrikaners in ‘n Amerkaanse supermark deur vreemdelinge voorgekeer is en na bewering gesê is hulle moet terugkeer huis toe. Die een man, wat glo ‘n bestuurder is, het beweer die Suid-Afrikaners het gom gesnuif en hulle aan ‘n soberheidstoets onderwerp.

# Sowetan:

Lei met: “WHY TREASURY WON’T PAY INDEBTED COUNCILS”. Die koerant berig dis ‘n duur les om die munisipaliteite te leer hoe om met geld te werk.

# En The Citizen:

Skryf die Suid-Afrikaanse Lugdiens het nog ‘n “reddingsboei” ontvang in die vorm van ‘n krediet-fasiliteit van ‘n miljard-rand van Standard Bank. Die koerant berig dit is nie duidelik of dit met belastingbetalersgeld deur die Tesourie onderskryf word nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig president Cyril Ramaphosa wil ook meer inligting hê oor die aantygings van adjunkminister John Steenhuisen teen die voormalige leier van die DA, Tony Leon.

En tweedens skryf die koerant ook oor die inkorting van munisipale toelaes.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die nuwe elektristeitstariewe het ‘n baie negatiewe uitwerking op verbruikers wat nie baie krag gebruik nie.

En tweedens skryf die koerant ook oor die strafmaatreëls teen munisipaliteite.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Madlanga-kommissie wil verdere uitstel hê om sy werksaamhede af te handel.

En berig tweedens oor ‘n slangvanger wat twee mambas moes trotseer.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die minister van Myne, Energie en Nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, sê hy was onbewus van die omvangryke korporatiewe skakels tussen Vitol en maatskappye wat reeds in Namibië se brandstofsektor bedrywig is.

Dan skryf die koerant sowat 47-persent van landbou-gegradueerdes in Namibië sit sonder werk.

 En laastens word berig die ministerie van die Omgewing, Bosbou en Toerisme het wild uit die Etosha Nasionale Park verskuif om droogtegeteisterde gebiede se bevolkings aan te vul.