Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Wêreldbank beveel ‘n 15-persent korporatiewe belastingkoers aan vir Suid-Afrika se Spesiale Ekonomiese Sones. Dit volg terwyl die regering oorweging skenk aan belastingverligting, sone-hervormings en befondsingsveranderinge.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die staat se Inligtingstegnologie-agentskap het sedert 2020 sowat twee-miljard-rand verloor, maar die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie sê die agentskap het nog nie in duie gestort nie.
En tweedens skryf die webblad vier mense is gister dood en agt beseer in ‘n ongeluk op die R-555 naby Middelburg in Mpumalanga. Nege voertuie was betrokke.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die polisie het verskeie eiendomme in Centurion deursoek in verband met die dood van die nasionale adjunkkommissaris van misdaadondersoek, Sindile Mfazi in 2021. Daar is aanvanklik aanvaar dat hy “as gevolg van Covid-19-verwante komplikasies” gesterf het. Die koerant berig Mfazi was met sy dood besig met ‘n ondersoek na die Geheime Dienste-rekening.
# Sowetan:
Berig die Madlanga-kommissie het uit teksboodskappe die spoor gevolg van generaal-majoor Feroz Kahn se tendertransaksies. Volgens WhatsApp-boodskappe word hy betrek by die toekenning van ‘n tender ter waarde van 50-miljoen-rand.
# En The Citizen:
Skryf daar wag ‘n onseker toekoms op die kinders van buitelanders wat gerepatrieer word. Hulle het tot dusver in Suid-Afrika onderwys ontvang terwyl die omstandighede tuis ingrypend verskil.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die DA se federale voorsitter, Solly Msimanga, het bevestig dat die party se federale raad sal ondersoek instel na adjunkminister John Steenhuisen se aantygings teen die party se oudleier, Tony Leon. Steenhuisen sal bewyse moet voorlê.
En tweedens skryf die koerant drie verdagtes het gister in die hof verskyn nadat hulle betrap is toe hulle die Hoërskool Belville se bussie wou steel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die raad van die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap het die instelling se uitvoerende hoof, Pierre Voges, aangestel om vir die volgende vyf maande in die posisie waar te neem.
En tweedens skryf die koerant die buitelanders wat by die hawe gehuisves word, sê hulle weet nie wat die toekoms inhou nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die vakbond NEHAWU het besluit om die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in die komende plaaslikeregeringsverkiesing te steun. Hierdie besluit dui op ‘n breuk met die ANC en volgens waarnemers op werkers se ongelukkigheid met die party.
En tweedens word berig oor die sardientjies aan die Suidkus.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming, Inge Zaamwani, het in die Parlement gesê die sowat 6,2-miljoen-rand wat by die Landboubemarkings- en Handelsagentskap verdwyn het, is nie bedrog nie. Sy sê dis swak finansiële bestuur.
Tweedens skryf die koerant die Namport Maatskaplike Beleggingsfonds het twee volledig toegeruste ambulanse vir landelike gebruik geskenk.
En laastens is daar nuus oor ‘n oud-Grootfonteiner, Birke Thümer, wat by die International Speaker Slam naby Wiesbaden in Duitsland met die gesogte Internasionale Sprekerstoekenning bekroon is.