Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oudpresident Thabo Mbeki het ‘n pleidooi gelewer vir vriendskap tussen Suid-Afrika en die VSA. Suid-Afrikaanse en Amerikaanse amptenare beklemtoon samewerking is noodsaaklik te midde van spanning oor tariewe, Agoa en diplomasie.
# Mail & Guardian:
Skryf onwettige gewigsverliesmiddels oorstroom Suid-Afrika.
En berig die aanstelling van Dina Pule as minister van Maatskaplike Ontwikkeling lok verontwaardiging uit.
# Die Papier:
Berig president Cyril Ramaphosa het Pule skynbaar aangestel onder druk van die ANC-vroueliga. Sy is die adjunksekretaris-generaal van die beweging. Die koerant skryf Cosatu, die ANC-veteraneliga en verskeie parlementslede bevraagteken die stap. Dit volg na Pule se afdanking in 2013.
Tweedens skryf die koerant volgens Eskom vorder die Stad Johannesburg stadig met die terugbetaling van sy skuld van meer as vyf-miljard-rand. Boonop sê die kragvoorsiener die bedrag het sedert Mei met 30-miljoen-rand gegroei.
En laastens word berig oor die Nasiekampioenskap-toets tussen die Springbokke en Engeland Saterdag op Ellispark.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die ANC wil hê die werksaamhede van die Ampsklagkomitee moet opgeskort word totdat uitslag verkry is op Ramaphosa se hersieningsaansoek teen die Artikel 89-komitee se Phala Phala-verslag.
En tweedens skryf die webblad die oudleier van die DA, Tony Leon, sê die bewerings rondom sy maatskappy, Resolve Communications en Starlink is bloot net politieke verdagmakery.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum het sy voormalige voorsitter, Makhudu Sefara, vrygespreek van enige oortreding van die organisasie se grondwet, gedragskode of waardes. Dit volg na ‘n onafhanklike regsondersoek na bewerings wat verband hou met die beweerde wanbesteding van Nasionale Loteryfondse.
# En Sowetan:
Berig die Spesiale Ondersoekeenheid sê hy is besig om sy verslag te voltooi oor die beweerde kwalifikasiebedrog van die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane. Intussen is daar ook ‘n hofbevel uitgereik wat die Universiteit van Fort Hare verplig om sy aansoek te hersien.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die busongeluk by Touwsriver wat die lewens van 15 mense, onder wie twee kinders, geëis het. Die bestuurder van die bus het na bewering uitgeswaai vir ‘n afleweringsvoertuig om ‘n botsing te vermy toe die bus omgeslaan het.
En tweedens skryf die koerant ook oor Tony Leon se maatskappy.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die bouwerk aan die Laer-Baakens tou-gly- of foefieslaaid-projek begin binnekort.
En tweedens skryf die koerant dit het aan die lig gekom wanbesteding en ‘n tekort aan personeel is van die onderliggende redes vir die waterprobleme in Nelson Mandelabaai.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Pitso Mosimane is tans ‘n sterk kandidaat om die hoofafrigter van Bafana Bafana te word, na Hugo Broos se vertrek na die Wêreldbeker. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het Mosimane ook voorheen in die openbaar ondersteun vir die pos.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese eerste minister, Elijah Ngurare, het die toename in onvoltooide regeringskapitaalprojekte skerp gekritiseer.
Dan skryf die koerant die uittredende direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië, Paulus Noa, kyk terug op sy 20 jaar by die kommissie
En laastens word berig die ergste koue weer in Namibië wyk effens.