Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die Bafana Bafana-groep wat geskiedenis gemaak het op die Wêreldbekertoernooi, het vanoggend ‘n helde-ontvangs gekry met hul aankoms op die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng. Bafana het wel Sondag in die ronde van 32 teen Kanada verloor, maar dit was die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat die nasionale span ‘n Wêreldbeker-uitklopfase bereik. Afrigter Hugo Broos sê die span het wonderlike ondersteuning van Suid-Afrikaners ontvang:
Steeds op die toernooi: Amerika, Engeland en België is deur na die laaste 16. Amerika het Bosnië-Herzegowina in Santa Clara 2-0 verslaan. Kaptein Harry Kane se twee doele het Engeland gehelp om die Demokratiese Republiek die Kongo in Atlanta 2-1 te troef. Dis die eerste keer in 60 jaar dat Engeland ʼn agterstand inhaal om ʼn uitklopwedstryd te wen. België het in Seattle met Senegal afgereken deur hulle in bykokmende tyd 3-2 te klop. Amerika kom nou teen België te staan terwyl Engeland en die mede-gasheerland, Mexiko, sake uitspook.
# Krieket: Die Protea-vrouespan speel vandag op die Oval teen die mede-gasvrou, Engeland, in die tweede halfeindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi. Australië wag op die wenner in Sondag se eindstryd op Lord’s nadat hulle die Wes-Indiese Eilande maklik geklop het in Dinsdag se eerste halfeindstryd. Suid-Afrika se vertoning het tot dusver wipplank gery, met ‘n nederlaag teen Australië, gevolg deur ‘n onoortuigende oorwinning oor Pakistan, ‘n goeie vertoning teen Indië en ‘n oorwinning van 88 lopies oor Nederland. Engeland is tot dusver onoorwonne in die toernooi.
# Rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok sê hulle maak gereed vir ʼn strawwe kragmeting met Engeland in Saterdag se Nasieskampioenskaps-openingswedstryd op Ellispark. Die span het gister hulle voorbereiding afgesluit. Engeland se afrigter, Steve Borthwick, kondig sy span vandag aan. Libbok, wat sy rol as spelleier volstaan en seker maak die Bokke speel op die regte plekke, sê dis sy werk om die span aan te vuur:
# En tennis: Die wêreld-nommer-een en verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, het deurgedring na die derde ronde van Wimbledon toe hy Nuno Borges van Portugal verslaan het. Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, het sy soeke na ‘n rekord 25ste Grand Slam-titel voortgesit deur Stefanos Tsitsipas van Griekeland te klop. In die vroue-afdeling het nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die ongekeurde Amerikaner McCartney Kessler verslaan. Coco Gauff van Amerika het gesukkel om Solana Sierra te klop en Barbora Krejcikova van Tsjeggië het die Russiese tiener Mirra Andreeva verras.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….