Nuus 13:00
BULLETIN 2 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Zimbabwiese president sê burgers wat terugkeer huis toe sal ondersteun word
# Matlala se regspan sê sy dagvaarding na die Madlanga-kommissie is ‘n regsdilemma
# En rugby: Twee nuwelinge is in die All Blacks se span vir die Nasieskampioenskaps-kragmeting met Frankryk
# Zimbabwe se president, Emmerson Mnangagwa, sê sy regering is gereed om burgers te ondersteun wat uit Suid-Afrika terugkeer ná die betogings teen onwettige immigrante. Dit volg nadat betogings reg oor Suid-Afrika vrese onder buitelandse burgers veroorsaak het, met verskeie buurlande wat burgers tans help om terug te keer huis toe. Mnangagwa sê die Zimbabwiese regering sal maatskaplike beskerming, tydelike bystand en berading aanbied:
Intussen sê die waarnemende kommissaris van die Grensbestuursowerheid, David Chilembe, meer as 35-duisend mense is deur die Beitbridge-grenspos in Limpopo gerepatrieer sedert die regering nuwe migrasiemaatreëls ingestel het. Hy sê die grenspos verwerk deportasies, vrywillige repatriasies en normale oorgrensreise. Die tussenministeriële komitee oor migrasie gaan repatriasiesentrums besoek om bedrywighede te evalueer en vorderingsverslae te ontvang. Chilembe sê die owerhede ondervind vertragings met die repatriasie van Malawiese burgers:
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se regspan beskryf sy dagvaarding om Dinsdag voor die Madlanga-kommissie te getuig as ‘n netelige kwessie. Hul voer aan Matlala moet aan die dagvaarding voldoen, maar word nie meer deur ‘n bekragtigde pleitooreenkoms beskerm om homself nie te benadeel nie. Dit volg nadat die Pretoriase Handelsmisdaadhof sy vonnisooreenkoms van agt-jaar met die staat verwerp en ‘n vonnis van 12-jaar voorgestel het in die multimiljoenrand-Medicare24-tendersaak. Die staat en die verdediging keer Woensdag terug na die hof met die finale besluit oor die voorgestelde ooreenkoms.
# Die verbruikersgoedereprodusent Tiger Brands het 100-persent van die lemoene wat nodig is om sy Oros-koeldrankreeks te vervaardig, die tweede agtereenvolgende sitrusseisoen vanaf Suid-Afrikaanse produsente verkry. Die onderneming sê dit versterk plaaslike landbou, ondersteun boere met ‘n bestendige vraag en verminder die afhanklikheid van invoere. Tiger Brands gebruik jaarliks sowat 45-duisend ton lemoene om Oros-konsentraat te vervaardig. Tiger Brands sê sy langtermyn-vennootskappe met plaaslike produsente help om volhoubaarheid, belegging en werkskepping in boerderygemeenskappe te verbeter.
# Rugby: Die Al Blacks se afrigter, Dave Rennie, het twee nuwelinge gekies vir Saterdag se Nasieskampioenskaps-openingswedstryd teen Frankryk in Christchurch. Die Hurricanes-sterre Xavier Numia en Fehi Fineanganofo sal hul toetsbuiging van die bank af maak. Kaptein Ardie Savea is agsteman terwyl Luke Jacobson in die nommer sewe-trui speel. Die veteraan Beauden Barrett is uit die groep gelaat. Rennie sê hulle is terdeë bewus van Frankryk se sterkpunte:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-412-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-72-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….