Nuus 11:00
BULLETIN 1 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering is nie bekommerd oor dreigemente van weeklikse betogings teen onwettige immigrante nie
# Die senior polisie-offisier Rachel Matjeng word afgedank oor haar bande met Vusimuzi ‘Cat’ Matlala
# En sokker: Afrigter Nagelsman wil by Duitsland aanbly ondanks die uitskakeling uit die Wêreldbekertoernooi
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering is nie bekommerd oor die dreigement van weeklikse betogings teen ongedokumenteerde immigrante nie. March and March se stigter, Jacinta Ngobese-Zuma, sê daar gaan die volgende ses maande elke week betogings wees om die regering te dwing om aan hul eise te voldoen. Ntshavheni sê die polisie het verlede maand betogings bestuur en sal voortgaan om dit te doen:
Een persoon is intussen dood en elf beseer toe ʼn bus wat passasiers van KwaZulu-Natal na die repatriasie-kamp in Musina, Limpopo, vervoer het, op die N1 omgeslaan het – sowat vier kilometer vanaf die Beitbrug-grenspos. Die bestuurder het vermoedelik weens uitputting beheer oor die voertuig verloor. ʼn Woordvoerder van Limpopo se Vervoerdepartement, Mashudu Mabata, sê daar was ongedokumenteerde Malawiese immigrante op die bus:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het brigadier Rachel Matjeng afgedank. Sy is een van 12 offisiere wat verbind word met die Medicare24-tenderskandaal van 228-miljoen-rand. Matjeng is ná ‘n interne tugproses skuldig bevind aan talle aanklagte van ernstige wangedrag wat verband hou met haar verhouding met die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi ‘Cat’ Matlala. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê korrupsie, misdadigheid en enige vorm van samewerking met misdadigers hoort nie in die Polisiediens nie:
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel sal Iran weer aanval as dit nodig is, en waarsku dat hy sal optree en keer dat Teheran sy kern- en missielvermoë herbou. Dit volg ondanks die ooreenkoms van verstandhouding wat Amerika en Iran verlede maand onderteken het. Dit sluit ʼn staking van vyandelikhede en gedeeltelike opheffing van sanksies in. Israel het herhaaldelik sy teenkanting teen enige ooreenkoms met Teheran uitgespreek. Netanyahu sê die Israelse Weermag sal ʼn pro-aktiewe benadering teen sy vyande volg.
# Sokker: Julian Nagelsman wil aanbly as Duitsland se afrigter al is die viermalige kampioen tydens die ronde van 32 van die Wêreldbekertoernooi uitgeskakel. Hul onverwagte nederlaag teen Paraguay is die eerste keer dat Duitsland ooit ‘n strafdoelstryd op ‘n Wêreldbekertoernooi verloor het. Nagelsman se kontrak strek tot 2028 se Europese Kampioenskap, maar hy verkeer onder druk terwyl die voormalige afrigter van Liverpool, Jurgen Klopp, as ‘n moontlike plaasvervanger beskou word. Nagelsman sê hy het baie jong spelers van gehalte in die groep vir die pad vorentoe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-555-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-962-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….