Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Gautengse regering het 296-miljoen-rand bewillig om sukkelende munisipaliteite in die provinsie te ondersteun. Die koerant skryf die stap volg terwyl kommer oor swak finansiële beheermaatreëls en mislukkings in bestuur toeneem.
# Mail & Guardian:
Skryf die leier van ActionSA en burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Herman Mashaba, wil ‘n Trump-agtige polisie-eenheid stig wat toegewy is aan die arrestasie van onwettige immigrante.
# Die Papier:
Berig die ANC volg skynbaar ‘n nuwe benadering om die polisie te ondersteun tydens volgende week se verwagte betogings teen onwettige immigrante. Die regering het met privaat veiligheidsmaatskappye ooreengekom om die polisie te help teen moontlike gewelddadige ontwrigting op 30 Junie.
Die koerant skryf voorts volledig oor vrese, verkeersontwrigting en March and March se betrokkenheid.
En laastens is daar ook ‘n volledige tydlyn van die migrante-kwessie.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met president Cyril Ramaphosa se versekering dat 30 Junie ‘n gewone werksdag sal wees en dat die veiligheidsmagte gereed staan om enige voorval te hanteer. Hy sê die migrasie-kwessie sal nie gebruik word om die land te destabiliseer nie.
En tweedens skryf die koerant die 14-jarige Thabso Lakaje en sy negejarige boetie Reanetswe is so ernstig aangerand op die plaas Toekoms buite Harrismith dat hulle aan hul wonde beswyk het. Die verdagte is bekend en die polisie is tans op soek na hom.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Johannesburgse motoriste is gewaarsku om hulle voor te berei vir groot verkeersontwrigtings regoor die middestad en dele van Midrand op 30 Junie, aangesien drie wettig goedgekeurde optogte met duisende deelnemers gelyktydig sal plaasvind. Die koerant berig volgens die Johannesburgse Metropolisie is die grootste byeenkoms ‘n March and March-optog deur die Johannesburgse middestad en Hillbrow-distrik.
# En Sowetan:
Het ‘n reusefoto van die Bafana Bafana-span op sy voorblad met die opskrif: “SIYABANGENA” – ons gaan binne.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die Ouditeur-generaal se jongste verslag oor die stand van plaaslike regering waarin daar skokfeite onthul word oor die haglike omstandighede by munisipaliteite. Die koerant berig die ANC gaan nie ingryp om die rade reg te ruk nie. Hulle wag op die kiesers om dit te doen. Die amptenare wat hul aan wanbesteding skuldig maak, mag ook persoonlike skuldbriewe ontvang.
En tweedens skryf die koerant oor die positiewe vooruitsig vir brandstofpryse in Julie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die voorsorgmaatreëls wat getref word en veiligheidsplanne wat in plek is om Nelson Mandelabaai se mense op 30 Junie te beskerm.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die eThekwini Munisipaliteit het weens veiligheidsoorwegings toestemming geweier vir die beplande betogings op 30 Junie. Die March and March-beweging gaan ten spyte van die weiering voort.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vier jaar na bewerings van onreëlmatighede oor ’n voedseltender, is drie maatskappye nou vir vyf jaar verbied om aan die openbare verkrygingsproses deel te neem.
En tweedens skryf die koerant volgens ‘n grondooreenkoms tussen die Stad Windhoek en die sentrale regering brei die munisipale gebied met 423-hektaar uit. Dit kom neer op ses-duisend nuwe woon- en sake-erwe vir Windhoek.