Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Junie 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die ANC het ‘n beroep gedoen op sy bevrydingsbande met Mosambiek om xenofobiese aanvalle te veroordeel. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party distansieer hom van enige teen-immigrante-betogings.

# Mail & Guardian:

Skryf hoe die sakemanne, Robert Gumede en Rute Moyo, te werk gegaan het om Tongaat Hulett te red en die suikerreus se toekoms te verseker.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig president Cyril Ramaphosa sê hoewel die stryd om vryheid nog nie verby is nie, is daar reeds baie vordering gemaak. Hy sê mense wag nog op die waardigheid wat vryheid belowe het.

En tweedens skryf die webblad die sekretaris-generaal van die MK-party, Sibolelo Nomvalo, sê die skorsing van Duduzile Zuma-Sambudla uit die party dui daarop dat MK nie slegs ‘n familie-stokvel is nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die ooreenkoms tussen die Verenigde State en Iran beëindig hopelik die onwettige gebruik van geweld en skendings van die VN-Handves.

# Sowetan:

Lei met: “GLIMMER OF HOPE”. Die koerant berig oor die strafskop van Teboho Mokoena in die 83ste minuut wat tot ‘n gelykop-uitslag van 1-elk vir Bafana Bafana en die Tjeggiese Republiek gelei het.

# En The Citizen:

Skryf mense en veral mans moet ligloop vir sogenaamde seks-afpersing deur sameswerings wat hul onwetend en onskuldig betrek by bordele en ander sekspaktyke. Afpersing het menige mans bankrot en emosioneel geskend gelaat.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig lede van die Artikel-89-komitee voel sterk dat president Ramaphosa se hofaansoek om die Parlement se Ampsklagkomitee te stop, teengestaan moet word.

En tweedens skryf die koerant ‘n kleinseun van wyle oudminister Pik Botha, Roelof Botha, is as direkteur van Space X aangestel.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die gemoedere loop hoog in Motherwell na die onlangse messteekvoorval waartydens ‘n jong vrou dood is.

En tweedens skryf die koerant die name van super-ondersteuners gaan op die Springbokke se broeke gedruk word vir hul kragmeting in Gqeberha.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oudpresident Jacob Zuma se MK-party is terug in die hof en voer aan die twee uur lange afskakeling van die Verkiesingskommissie se regstreekse uitslae-telbord kon die integriteit van die 2024 nasionale en provinsiale verkiesing beïnvloed.

En tweedens word berig sindikate plunder nou die toerusting wat vir padherstelwerk gebruik word.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig 18 uitvoerende beamptes en bestuurders van die Namibië Lughawensmaatskappy het peperduur maatskappyvoertuie gekoop onder ’n direksiegoedgekeurde skema nadat hulle slegs vyf-duisend-rand betaal het om eienaarskap oor te dra.

En tweedens skryf die koerant die voortslepende onderbreking in Namibië se eJustice-stelsel ontwrig regsdienste in die land en vertraag die afhandeling van boedels, eiendomsoordragte en ander hofverwante prosesse.