Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Afrika-Unie se halfjaarlikse koördineringsberaad en die eerste El Alamein Afrika-forum, wat oorspronklik vir 25 tot 27 Junie beplan was, is uitgestel weens die wydverspreide voorkoms van die Ebola-virus in verskeie Afrikalande.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die omstrede voormalige Pretoriase prokureur, Peet Viljoen, is kort na sy deportasie uit Amerika op die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem vir beweerde bedrog, diefstal en korrupsie. Hy sal moontlik vandag in die hof verskyn.
En tweedens skryf die webblad oor die DA-burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, wat haar lyf platejoggie gehou het by ‘n kuierplek in Fourways as deel van haar verkiesingsveldtog.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Malawi-regering het ‘n beroep gedoen op finansiële skenkings en humanitêre hulp om duisende van sy burgers wat in Suid-Afrika gestrand is, huis toe te bring. Die beroep kom terwyl Malawi pogings verskerp om die vrywillige terugkeer van ten minste 10-duisend burgers te fasiliteer.
En tweedens word berig die mediapersoonlikheid en televisie-aanbieder Molemo Maarohanye, beter bekend as Jub Jub, is op borgtog van vyf-duisend-rand vrygelaat. Dit volg twee dae nadat die 45-jarige in hegtenis geneem is na ‘n beweerde gewapende konfrontasie met ‘n e-taxi-bestuurder in Edenvale.
# Sowetan:
Berig president Cyril Ramaphosa het diegene wat die land op 30 Junie in geweld wil dompel gewaarsku dat hulle te doen sal kry met die volle krag van die sekuriteitsmagte. Hy sê die regering sal nie toelaat dat diegene wat die land wil ontwrig onskuldige mense gebruik en mislei nie.
# En The Citizen:
Lei met: “LIFE IS HELL FOR CHILDREN”. Die koerant skryf gemiddeld ses kinders word daagliks verkrag, 175 word jaarliks vermoor en 160 kindermishandelingsake is die afgelope jaar by die polisie ingedien.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor Peet Viljoen se arrestasie.
Tweedens skryf die koerant president Donald Trump sê Iran mag ingevolge die vredesooreenkoms nie ‘n enkele kernwapen hê nie.
En laastens word berig die dalende olieprys as gevolg van die vrede in die Midde-Ooste hou moontlik goeie nuus in vir motoriste.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig amptenare mag voortaan verantwoordelik gehou word vir onreëlmatige besteding.
En skryf tweedens ‘n moordbeskuldigde van Jeffreysbaai is vrygespreek.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die beleërde adjunkburgemeester van Msunduzi, Alpha Shelembe, het bedank uit sy politieke posisies, insluitend sy rol as onderburgemeester en streekstesourier van die ANC. Sy bedanking kom na ‘n vlugtige verskyning in die Pietermaritzburg-landdroshof op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibië Lughawensmaatskappy het sy regstreekse verkryging van twee brandbestrydingsvoertuie van byna 40-miljoen-rand verdedig.
En tweedens skryf die koerant plaaswerkers het die 29-jarige Suid-Afrikaner, Armand Schultz, geïdentifiseer as die bestuurder van ’n dagga-verbouingsoperasie ter waarde van etlike miljoene rand op ’n kommersiële plaas in die Hochfeld-omgewing.