Nuus 06:00 (DGO)
BULLETIN 12 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika het vordering gemaak in die stryd teen Tuberkulose
# Minister Leon Schreiber sê deportasies gaan voort as deel van immigrasie-afdwinging
# En sokker: Bafana Bafana verloor teen Mexiko
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika het vordering getoon in die stryd teen tuberkulose deur stelsels te versterk en innovasie en tegnologie toe te pas. Hy het gister die slotopmerkings gelewer by die Negende Suid-Afrikaanse TB-konferensie in Boksburg, Gauteng, in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale VIGS-raad. Mashatile sê die land het sedert 2015 ‘n 61-persent-vermindering in TB-voorkoms behaal. Dit het die Wêreldgesondheidsorganisasie se 2025-mylpaal voortydig oortref. Hy sê gevalle het afgeneem van meer as 500-duisend in 2015 tot nagenoeg 249-duisend in 2024.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê buitelandse burgers moet seker maak hulle het geldige visums of wettige magtiging om in Suid-Afrika te wees, aangesien immigrasiewette steeds streng toegepas word. Dit volg na die repatriasie van 586 Nigeriese burgers wat onwettig in die land was. Alle betrokke individue is as ongewens verklaar, wat tot ‘n vyfjaarverbod op hertoelating gelei het. Schreiber doen ‘n beroep op buitelandse burgers om hul status te wettig om soortgelyke optrede te vermy. Hy sê deportasies en repatriasies het die afgelope twee jaar met 46-persent toegeneem.
Intussen sê die Grensbestuursowerheid nege Bangladesjiese burgers is by OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng onderskep nadat hulle probeer het om Suid-Afrika met die gebruik van vervalste reisdokumente binne te kom. Die groep is gister tydens immigrasieverwerking met vals Suid-Afrikaanse visums en Indiese paspoorte gevind en is sedertdien teruggestuur na Bangladesj. Mmemme Mogotsi van die Owerheid sê ondersoeke is aan die gang om die bron van die vals visums en paspoorte op te spoor.
# Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, sê die Iranse regime gaan die eindstryd-spel wat hy speel verloor. Die VSA en Iran het mekaar Woensdag vir ‘n tweede agtereenvolgende dag aangeval. Bessent waarsku dat enige skade wat Teheran aan Amerikaanse bondgenote in die Golf aanrig, verhaal sal word uit Iranse rekeninge. Hy waarsku ook dat enige tolgeld wat aan die Persiese Golfstraatowerheid betaal word, ‘n nuwe liggaam wat deur Iran opgerig is om die Straat van Hormoes te beheer, teen Iranse fondse verreken sal word.
# Sokker: Bafana Bafana het ‘n 2-0 nederlaag gely teen mede-gasheer Mexiko in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi op Estadio Azteca in Mexikostad. Julian Quinones en Raul Jimenez was in die kol vir El Tri in ‘n wedstryd wat drie rooi kaarte opgelewer het. Die Brasiliaanse skeidsregter Wilton Sampaio het Suid-Afrika se Sphephelo Sithole afgestuur omdat hy ‘n doelkans verwerp het, en Themba Zwane omdat hy ‘n speler in die gesig geslaan het. Mexiko se Cesar Montes is vir ‘n laat oortreding afgestuur. Suid-Afrika speel volgende Donderdag in Atlanta teen Tsjeggië in Groep A.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-219-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad het Time Out se lys van Beste Kosstede vir 2026 gehaal. Die Moederstad, wat op nommer elf geplaas is, word gevier vir sy plaaslike geure, met Kaaps-Maleisiese kerrie wat spesiale vermelding kry. Die Peruaanse stad Lima is eerste, bekend vir sy seekos-lekkernye soos ceviche. Vir die tweede agtereenvolgende jaar is Bangkok in Thailand tweede, met sy ongeëwenaarde straatkoskultuur. Meksikostad is derde, gevolg deur Londen en Barcelona in Spanje, wat die top vyf voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….