Nuus 07:00 (DGO)
BULLETIN 17 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê die ANC bly verbind tot Billike Energieoordrag
# Nog ‘n verdagte is in hegtenis geneem in verband met die Reigerpark-moorde
# En verskeie lande veroordeel Israel se besluit om die Gaza-vredesplan te verwerp
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die voorgestelde onafhanklike transmissiestelsel-operateur sal in staatsbesit bly. Hy was gister deel van ‘n ANC-inligtingsessie terwyl die party sy 2021 plaaslike regeringsmanifes-hersiening voortsit met klem op behuising, water en energie. Die transmissiestelsel sal volgens hom apart van Eskom wees en eienaarskap en beheer hê oor transmissiebates, die elektrisiteitsmark bedryf en grootskaalse transmissiebelegging moontlik maak. Ramokgopa sê die ANC herbevestig sy verbintenis tot Billike Energieoordrag en uitbreiding van die netwerk. Hy sê die werkers wat betrokke is by steenkoolopwekking hoef nie te vrees oor hul werk nie want die regering gaan die netwerk uitbrei.
# Die vakverbond Saftu sê meer as drie dekades na apartheid word reusedele van Suid-Afrika se minerale rykdom steeds beheer volgens die logika van private verkryging. Asive Dyani van Saftu sê mynbougemeenskappe bly dikwels arm terwyl rykdom wat onder hul voete gemyn word, na korporasies, aandeelhouers en finansiële markte vloei. Sy sê Suid-Afrika kan nie ‘n ekonomie bly wat minerale myn, dit rou of sonder voordeel vir die gemeenskap uitvoer en dan vervaardigde goedere teen reusekoste invoer nie. Sy sê hulle eis ‘n werkbare model waarvolgens minerale in plaaslike nywerhede ontwikkel word sodat gemeenskappe vir werkers geskep kan word.
# ʼn Tweede verdagte is gearresteer in verband met die moord verlede week op twee beamptes van die Teenbende-eenheid en twee vroue in Reigerpark, Ekurhuleni. Die 24-jarige verdagte is gistermiddag in Reigerpark aangekeer ná die multidissiplinêre span se intensiewe opsporingsoperasie. Hy sal hierdie week in die hof verskyn. Verlede week het die 23-jarige Reagan Collis in die Boksburg-landdroshof verskyn op vier aanklagte van moord. Hy bly in aanhouding en sal op 25 Augustus amptelik om borgtog aansoek doen.
# Die Wes-Kaapse polisie het die moord Saterdagaand in Nyanga, Kaapstad, op ‘n 37-jarige polisiebeampte wat van diens af was veroordeel. Polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê die polisie op patrollie het reageer op skote wat in die gebied gehoor is toe hulle op ‘n groep mense in Hanistraat afgekom het. Sy sê met hul aankoms op die toneel het hulle ‘n man met skietwonde aan sy bolyf in die pad gevind.
# Die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Jordanië, Indonesië, Pakistan, Turkye, Saoedi-Arabië en Egipte se ministers van Buitelandse Sake veroordeel Israel se verwerping van die 15-punt-vredesplan wat president Donald Trump van Amerika se Vredesraad voorgestel het. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, verwerp die voorgestelde plan en sê die weermag sal nie uit Gaza onttrek voor Hamas heeltemal ontwapen is nie. In ʼn gesamentlike verklaring beskuldig die ministers Israel daarvan dat hy pogings ondermyn om die oorlog teen Hamas in Gaza te beëindig, en Trump se pogings om blywende vrede te bewerkstellig, kelder.
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, vertrou op sy span se herstelvermoë na die skokkende nederlaag van nege paaltjies in die eerste toets teen Bangladesj in Darwin. Dit was Bangladesj se eerste oorwinning in Australië en hul tweede toets-sege oor die wêreld se topspan. Cummins se besluit om eerste te kolf het onder die loep gekom omdat toestande later op die eerste dag verbeter het. Hy erken dat hulle in alle fasette ore aangesit is, en dat veranderinge moontlik is vir die tweede toets wat Saterdag in Mackay begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-41-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-407-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….