Nuus 06:00 (DGO)
BULLETIN 9 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Wes-Kaapse vrou word tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op haar drie agter-kleinkinders
# Jacob Zuma loop sy veldtoggeleentheid in Johannesburg mis weens gesondheidsprobleme
# En rugby: Die eerste plaaslike kragmetings van die Verenigde Rugbykampioenskap vind hierdie naweek plaas
# ‘n Vrou van die Wes-Kaap is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op haar drie agter-kleinkinders. Die 71-jarige Sarie de Villiers van Wellington het erken dat sy in November 2021 opsetlik met haar voertuig by Bainskloofpas afgery het. Sy het dit oorleef, maar die agtjarige Caleb Booysen en sy jonger broers, Gradwell en Joshua, is dood. Die kinders was in pleegsorg nadat hulle uit die gesinswoning verwyder is weens hul ouers se dwelmmisbruik. De Villiers het aan die Worcester-streekhof gesê sy het hulle teen ‘n lewe van lyding beskerm.
# Die president van die MK-party, Jacob Zuma, het die party se veldtoggeleentheid oor die toestand van die Stad Johannesburg misgeloop te midde van berigte dat hy in die hospitaal is. Een van Zuma se vertrouelinge het aan News24 gesê die oudpresident is siek. Die party sê egter hy is gesond en het onlangs ‘n gereelde mediese ondersoek ondergaan. Zuma se tweede adjunkpresident, Tony Yengeni, het hom verteenwoordig en ‘n boodskap oorgedra wat inwoners van Johannesburg aanmoedig om die party se burgemeesterskandidaat, Bongani Baloyi, te ondersteun.
# Statistiek Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in Augustus met 4,3-persent gedaal vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Die grootste dalings was in motorvoertuie, chemikalieë, hout en papier, en voedsel en drank. Produksie het ook sedert Julie met 3,1-persent gedaal. Verkope in die vervaardigingsektor het egter in Augustus met 1,1-persent toegeneem en met 1,4-persent gestyg oor die drie maande tot Augustus. Woordvoerder Nicolai Claassen sê motorvoertuie en chemikalieë het die grootste bydraes tot die verkope-toename gelewer. Hy sê dis die grootste afname sedert Mei 2024 toe vervaardiging met 4,1-persent teruggesak het.
# Die Stad Johannesburg het 14 openbare swembaddens oopgestel as deel van ‘n program vir gefaseerde heropening. Die stad sê kwessies oor personeelwerwing, nakoming en instandhouding by die fasiliteite is opgelos, en gekwalifiseerde lewensredders is gereed vir diens. Daar word verwag dat nog tien swembaddens van Maandag sal heropen, insluitend fasiliteite in Rabie-rif, Dobsonville, Jabavu, Sydenham en Lenasia. Die lid van die burgemeesterskomitee vir Gemeenskapsontwikkeling, Thapelo Amad, sê die heropeningsproses het langer geduur as wat verwag is.
# Die Britse polisie het erken die lasbrief vir die gewese prins Andrew se eiendomme is verkeerdelik toegestaan en moet tersyde gestel word. Die 66-jarige voormalige koninklike is in Februarie in hegtenis geneem vir beweerde wangedrag in ‘n openbare amp oor sy bande met die oorlede veroordeelde pedofiel Jeffrey Epstein. Sy ouer broer, koning Charles, het hom vroeër van sy titels gestroop. Die Hooggeregshof sê Andrew en die Thames Valley-polisie het ‘n ooreenkoms bereik, maar die polisie sal die items hou tot die verhoor volgende jaar terwyl die strafregtelike ondersoek voortduur.
# Rugby: Die eerste plaaslike derbies van die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen vind hierdie naweek plaas. Die Bulle is môremiddag gasheer vir die Leeus op Loftus, met afskop om 1:30. Vier-uur verwelkom die Stormers die Haaie in Kaapstad. Die Haaie is bo aan die punteleer ná oorwinnings in hul eerste twee tuiswedstryde, gevolg deur die Walliese span Cardiff en die Leeus, wat ook nog onoorwonne is. Die Bulle en die Stormers beklee onderskeidelik die sewende en agtste plek ná gemengde uitslae in die openingsrondes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-875-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-173-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 106-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….