Nuus 18:00
BULLETIN 11 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement hou vol daar is geen vertragings in die Phala Phala-ampsklagproses nie
# Die staat verwerp Julius Malema se poging om vuurwapenskuldigbevinding tersyde te stel
# En sokker: Die FIFA-president verdedig die hantering van die Wêreldbeker-omstredenheid, insluitend die visum-kwessies
# Die Parlement sê daar is geen vertragings in die Phala Phala-ampsklagproses teen president Cyril Ramaphosa nie. News24 berig die sekretaris van die Nasionale Vergadering, Masibulele Xaso, het aan lede van die Parlement gesê die proses vorder volgens plan. Die ampsklagkomitee het verlede week sy eerste vergadering gehou en Makashule Gana van Rise Mzansi tot voorsitter verkies. Die Reëlskomitee het die konsepreëls terugverwys vir duidelikheid oor wie op die komitee mag dien. Xaso hou vol die proses sal voortgaan tensy ‘n hof anders beslis:
# Die verhoor van die sewe mans wat beskuldig word van die moord op kletsrymer Kiernan ‘AKA’ Forbes, en sy vriend Tebello Motsoane, is in die Hooggeregshof in Durban uitgestel. Die verdediging het die hof meegedeel dat hulle nie gereed is om voort te gaan nie, en verwys na uitstaande regsdokumente en beperkte toegang om met kliënte by die eBongweni-korrektiewe sentrum te konsulteer. Die staatsaanklaer, advokaat Lawrence Gcaba, sê die staat is gereed vir die verhoor met 45 getuies wat sal getuig. Die saak sal in September na die Hof terugkeer om uitstaande kwessies op te los voordat die verhoorverrigtinge begin.
# Die staat het die EFF-leier Julius Malema se poging om sy vuurwapen-skuldigbevinding tersyde te stel verwerp en sê sy appèlaansoek is ongegrond. Malema appelleer teen sy vonnis van vyf jaar vir aanklagte wat verband hou met ‘n voorval in 2018 waar hy op video afgeneem is toe hy na bewering ‘n geweer afgevuur het op ‘n saamtrek in Mdantsane in die Oos-Kaap. Malema hou vol die wapen was ‘n speelgoedgeweer wat met los kruit gelaai was. Die Hooggeregshof in Makhanda sal beslis of Malema met sy aansoek om appèl kan voortgaan.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid moedig mans en seuns van tien jaar en ouer aan om gedurende die winterseisoen van gratis vrywillige mediese manlike besnydingsdienste gebruik te maak wat by openbare gesondheidsfasiliteite regoor die provinsie beskikbaar is. Die woordvoerder van die Departement, Steve Mabona, sê die prosedure kan die risiko van heteroseksuele MIV-infeksie met bykans 60-persent verminder en bied bykomende gesondheidsvoordele. Hy doen ‘n beroep op ouers om te verseker dat seuns besnydenis in geakkrediteerde mediese fasiliteite ondergaan:
# Sokker: FIFA-president Gianni Infantino het sy organisasie se hantering van verskeie omstrede kwessies verdedig wat die afwagting voor die Wêreldbeker in die Verenigde State, Kanada en Mexiko oorskadu het. Dit sluit in die Somaliese skeidsregter, Omar Artan, wat toegang tot Amerika geweier is omdat hy vermoedelik bande met vermeende terreurorganisasies het, Iran wat sy span se oefenbasis van Amerika na Mexiko verskuif het, en die duur kaartjies. Infantino sê mense moet kalmeer en ontspan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-5-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-86-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 91-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….