Nuus 16:00
BULLETIN 11 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille beskou die Wêreldbekertoernooi as ‘n hupstoot vir Suid-Afrikaanse toerisme in Mexiko
# Drie Indiese matrose sterf in ‘n Amerikaanse aanval naby Oman
# En krieket: Kapp sê die Protea-vroue kan nie net op Wolvaardt staatmaak in die T20-Wêreldbeker nie
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die Wêreldbeker-sokkertoernooi bied ‘n waardevolle geleentheid om Suid-Afrika as ‘n toonaangewende toerismebestemming in Mexiko te bemark. Sy het voor vanaand se openingswedstryd tussen Suid-Afrika en die mede-gasheer aan SABC News gesê sy wil meer reise tussen die lande bevorder. De Lille sê die wêreldgeleentheid bied ‘n platform om Suid-Afrika se uiteenlopende besienswaardighede bekend te stel aan internasionale gehore:
# Die hoofinspekteur van Gautengse Verkeer, Samuel Mashaba, het voor die Madlanga-kommissie getuig dat die informant Tumelo Nku vir hom geld gegee het, al was hulle verhouding nie sosiaal of sakeverwant nie. Mashaba sê hy het Nku in 2019 deur ‘n gemeenskaplike kennis ontmoet en hom as ‘n sakeman geken. Getuienisleier Lee Segeels-Ncube bevraagteken Mashaba se boodskap waarin verwys word dat die ”baas” nie met leë hande genader moet word nie:
# Die ANC-Jeugliga lei ‘n versetoptog voor Cartrack se hoofkwartier in Rosebank, Johannesburg, en eis antwoorde oor die dood van werknemer Gcina Dhladhla. Betogers beweer Dhladhla het ‘n toesighouer meegedeel dat sy siek is, maar is opdrag gegee om aan te hou werk. Die onderneming ontken die bewerings. Dhladhla is Saterdag dood. Betogers beskuldig Cartrack dat die omstandighede rondom haar dood ‘n wanvoorstelling is, en eis aanspreeklikheid.
Nuus uit die buiteland:
# Drie Indiese matrose is dood in ‘n Amerikaanse militêre operasie om ‘n tenkskip naby Oman te stuit as deel van pogings om skeepsverkeer verbind aan Iran te versper. Dit is die eerste sterftes sedert die versperring op 13 April begin het. Amerika het reeds agt skepe buite werking gestel en meer as 100 gedwing om om te draai. Indië se minister van Skeepsvaart, Sarbananda Sonowal, het die drie sterftes bevestig. Die Amerikaanse Weermag sê die bemanning van ‘n Amerikaanse vliegtuig het ‘n olie-tenkskip in die Golf van Oman aangeval.
# Krieket: Die veelsydige veteraan Marizanne Kapp sê die Protea-vrouespan moet nie slegs op kaptein Laura Wolvaardt se puik spel staatmaak in die T20-Wêreldbekertoernooi wat môre in Engeland en Wallis begin nie. Sy sê die res van die spelers moet ook hulle kant bring sodat hulle die toernooi kan wen nadat hulle drie vorige Wêreldbeker-eindstryde verloor het. Wolvaardt is op haar beste en het ‘n honderdtal en drie vyftigtalle in die onlangse T20-reeksoorwinning oor Indië aangeteken. Suid-Afrika begin hul Wêreldbeker-veldtog Saterdag teen die gevaarlike Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-708-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-63-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….