Nuus 16:00
BULLETIN 10 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse polisie verskerp die soektog na verdagtes in ‘n massaskietery in Cleveland
# Die stigter van Tax Justice SA is onversetlik ná beweerde dreigemente wat in hofstukke blootgelê is
# En rugby: Kaptein Maro Itoje is nie ingesluit in Engeland se oefengroep nie
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, verwelkom Gautengse spanne se vinnige reaksie ná ‘n massaskietery in Cleveland, Johannesburg, waarin 12 mense dood is. Sy het die ontplooiing van bykomende nasionale spesialis-eenhede gelas, insluitend forensiese kundiges en taktiese reaksiespanne, om die ondersoek te ondersteun. Polisiewoordvoerder Nonkululeko Phokane sê ‘n multidissiplinêre taakspan volg leidrade op, insluitend oor ‘n wit Toyota Quantum wat met die voorval verbind word, en alle pogings word verskerp:
# Getuie “I” het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het bykans twee-jaar op ‘n eiendom van die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala gewoon omdat sy lewe in gevaar was ná ‘n aanval op sy huis in Mamelodi in 2023. Kaptein Faleni Zungu van die polisie het hom aangeraai om te verhuis. Die getuie het eers later uitgevind die eiendom behoort aan Matlala en sê hulle het geen regstreekse kontak gehad nie:
Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê intussen hy sal nie geïntimideer word ná beweerde dreigemente teen hom voor die kommissie nie. Hofstukke bevat glo WhatsApp-boodskappe verbind aan die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, en die tabak-sleutelfiguur, Mohamed Sayed, ná Abramjee se bewerings oor onwettige sigarethandel. Hy sê dit beklemtoon die omvang van georganiseerde misdaad wat verband hou met die onwettige tabak-ekonomie, en beloof om steeds korrupsie te ontbloot:
# Die Nasionale Vakbond vir Hoër Onderwys in die Oos-Kaap het ‘n strafregtelike klagte ingedien teen die Universiteit van Fort Hare se geskorste visekanselier, Sakhela Buhlungu. Die klagte, wat verband hou met beweerde ernstige bestuurs- en aanspreeklikheidskwessies, is by die Spesiale Ondersoekeenheid, die Valke en die Openbare Beskermer ingedien. Buhlungu is geskors nadat ‘n forensiese verslag beweer het hy en vier werknemers het twee uitvoerende direkteure aangestel sonder die universiteitsraad se goedkeuring. Die vakbond sê Buhlungu het die instelling in ‘n swak lig geplaas.
# Rugby: Engeland se kaptein, Maro Itoje, is nie ingesluit in die groep vir ‘n oefenkamp ter voorbereiding vir volgende Vrydag se wedstryd teen ‘n Franse vyftiental nie. Dit is voor die eerste Nasieskampioenskap waarin Engeland teen Suid-Afrika, Fidji en Argentinië te staan kom. Afrigter Steve Borthwick het verlede week onthul dat gesprekke gevoer is om Itoje te laat rus na sy intensiewe deelname op klubvlak, vir sy land en die Britse en Ierse Leeus die afgelope twee seisoene. Vier nuwelinge is in die oefengroep ingesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-33-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-135-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….