Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 April 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Haaie speel Saterdag tuis in Durban teen Edinburgh in die kwarteindronde van die Europese Uitdaagbeker nadat hulle Zebre 47-3 afgeransel het in hul ronde-van-16-kragmeting op Kingspark. John Plumtree se span het sewe drieë gedruk en hul hoop versterk om die seisoen met ‘n beker af te sluit na ‘n teleurstellende begin. As hulle die naweek wen, sal hulle in die halfeindronde te staan kom teen die Franse span Clermont of die Ierse span Ulster.
Nog rugby: Die Blitsbokke se hoofafrigter, Philip Snyman, sê hy is tevrede met sy span se verbetering in die Hongkongse Sewes-toernooi. Die Blitsbokke het sesde geëindig en genoeg punte bymekaargemaak vir hul derde-beste vertoning dié seisoen, en om hul plek onder die top agt op die algehele punteleer te behou. Snyman sê die fokus sal nou verskuif na voorbereiding vir die eindronde van die huidige Sewesreeks in Madrid einde volgende maand:
# Vervolgens, sokker: Die afrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, is optimisties terwyl hulle voorberei vir môre se tweede skof van hulle kragmeting met die Super Falcons van Nigerië op Loftus Versveld. Ellis glo haar span kan sake omkeer ondanks ‘n nederlaag van 1-0 in die eerste wedstryd. Sy reken tuisvoordeel sal Banyana help kwalifiseer vir vanjaar se Olimpiese Spele, waar hulle by Spanje, Brasilië en Japan in Groep C kan aansluit:
# Volgende tennis: Die wêreld se nommer een-speler, Novak Djokovic, erken hy koester geen hoë verwagtinge vir die Monte Carlo Meesters nie. Anders as in vorige jare toe hy vroeg titels verower het op die Australiese Ope, in Dubai of in die Sonskyn-dubbel, bly die Serwiër tot dusver vanjaar sonder ‘n trofee. Djokovic, wat reeds twee keer die titel in Monte Carlo-titel verower het, hoop hy kan beter speel nadat hy sedert 2015 in sewe verskynings nog nie verder kon vorder as die kwarteindronde nie:
# En, ons sluit af met Olimpiese nuus: Die agtmalige klim-wêreldkampioen Janja Garnbret wil vanjaar in Parys nog ‘n goue medalje inpalm soos sy in 2021 in Tokio gedoen het toe die sport sy debuut op die Spele gemaak het. Die 25-jarige Sloweense “Spider-woman” het aan AFP gesê sy het as ‘n kind deure, kaste en bome geklim voordat sy klimkompetisies begin wen het. ‘n Geïllustreerde kinderboek oor haar lewe behoort later vanjaar te verskyn. Garnbret sal op die Spele meeding in die tou- en rotsdissiplines, wat afgeskei is van spoedklim.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….