Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die voormalige hoof van IDAC, advokaat Andrea Johnson, het voor die Madlanga-kommissie erken sy en generaal-majoor Feroz Khan het ‘n intieme verhouding gehad. Intieme WhatsApp-boodskappe tussen die twee is as bewysstuk by die kommissie ingedien.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig daar heers paniek oor Premier Foods se aankondiging dat hy sy inmaakfabriek in Tulbagh gaan sluit omdat dit nie meer winsgewend is nie. Duisende permanente en seisoenwerkers gaan hul enigste inkomste verloor.
En tweedens skryf die webblad die ANC gaan die verkiesingsuitslag in wyk 28 in Emfuleni in die Verkiesingshof betwis omdat die party met agt stemme teen die DA verloor het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ongedokumenteerde ouers het ‘n regstryd gewen nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof beslis het dat die Departement van Binnelandse Sake onwettig opgetree het deur te weier om die geboortes van kinders te registreer bloot omdat een of albei ouers nie geldige immigrasiedokumente gehad het nie.
# En Sowetan:
Berig dit het by die Madlanga-kommissie aan die lig gekom die geskorste nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, is net by die sogenaamde Medicare24-bedrogsaak betrek om hom in ‘n verleentheid te stel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die parlementêre Ampsklagkomitee gaan ook appèl aanteken in die Konstitusionele Hof teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se beslissing om president Cyril Ramaphosa se interdik teen die komitee toe te staan.
Dan skryf die koerant die geheime Vrystater wat skynbaar ‘n tweede vrou soek, is na bewering Gerrit Coetzee. Die bruidskat in die “transaksie” is nou een-miljoen-rand en die erflating 20-miljoen-rand.
Voorts is daar nuus oor een van net 25 bestaande en baie seldsame ZAR-proefpennies wat te koop is.
En laastens berig die koerant ook oor die beoogde sluiting van die Tulbagh-inmaakfabriek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n geskorste kommunikasiedirekteur van die Oos-Kaapse regering wat na ‘n jaar steeds haar volle salaris verdien.
En tweedens skryf die koerant oor die miljoene rand se stormskade aan die Nelson Mandelabaai-stadion.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die omstrede aktivis en tradisionele geneser, Ngizwe Mchunu, het kommer uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse ekonomie en veral die uitwerking van onwettige immigrasie op die land se ekonomiese bestendigheid.
En tweedens word berig die versuim van duisende inwoners om hul identiteitsdokumente af te haal, dreig om kiesersdeelname in die komende plaaslike regeringsverkiesing te ondermyn.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n hotel met 11 verdiepings van sowat 40 meter hoog word vir ’n terrein beplan wat aan Swakopmund se bewaringsgebied grens.
Dan skryf die koerant die Namibiese regeringspensioenfonds betaal sowat 54-duisend pensioenarisse en ander begunstigdes maandeliks ‘n saamgestelde bedrag van 362-miljoen-rand.
En laastens word berig die 21-jarige Johannes Bock is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op die 17-jarige Sara Jonker in Gochas.