Nuus 06:00
BULLETIN 30 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre Ampsklagkomitee gaan ook appèl aanteken teen Ramaphosa se interdik
# Meer as twee-duisend Toyota Urban Cruisers word teruggeroep
# En die Verkiesingskommissie verwerp bewerings oor ‘n spesiale verkiesingstatus vir Orania
# Die parlementêre Ampsklagkomitee het besluit om teen die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof oor president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek te appelleer. Verlede week het die hof die openbare verhore van die komitee gestop, hangende die president se hersieningsaansoek teen ‘n onafhanklike Artikel 89-paneelverslag. Die African Transformation Movement, EFF, MK-party en United Africans Transformation het die Konstitusionele Hof genader vir verlof tot appèl. Die voorsitter van die komitee, Makashule Gana, sê hulle sal hul appèl ook regstreeks na die Konstitusionele Hof neem:
# Die Openbare Beleggingskorporasie soek ‘n gekwalifiseerde en ervare diensverskaffer om kultuurtransformasie te skep, bevorder en in te stel aan die hand van ‘n interne kultuuropname. Van die doelwitte sluit in die bevordering van geestesveiligheid en vertroue, asook die bevordering van ‘n werknemer-genesingsproses en eerlike gesprekke. Die OBK sê die ingryping moet ook uitvoerende en leierskapsbelyning, en gedragsverandering en -aanvaarding insluit. Die korporasie is in ‘n krisis na die skorsing van sy uitvoerende hoof Patrick Dlamini en die bedanking van direksievoorsitter David Masondo, en verskeie nie-uitvoerende direkteure.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n veiligheidsherroeping aangekondig vir twee-duisend-208 Toyota Urban Cruisers weens ‘n foutiewe brandstofmeter op voertuie wat tussen 17 Januarie en 3 Junie verlede jaar vervaardig is. Phetho Ntaba van die kommissie sê die fout kan veroorsaak dat die brandstofaanwyser meer brandstof aandui as wat in die tenk is, wat kan veroorsaak dat die voertuig sonder brandstof kan gaan staan:
# Die Verkiesingskommissie se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê die kommissie erken Orania in die Noord-Kaap nie as ‘n afsonderlike gebied vir verkiesings nie en sal Suid-Afrika se amptelike munisipale grense volg. Mamabolo het ook bevestig 2 en 3 November sal spesiale stemdae wees, met die hoof- plaaslike regeringsverkiesing op 4 November:
# Irak se Ministeriële Raad vir Nasionale Veiligheid het die land se ministerie van Buitelandse Sake opdrag gegee om regstappe teen die VSA en Saoedi-Arabië te doen. Dit volg nadat die twee lande gister Iran-gesteunde burgermagte in Irak aangeval het. Die Amerikaanse Sentrale Bevel sê die Iran-gesteunde terroriste is deur die Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps opdrag gegee om Amerikaanse magte en die Saoedi-energie-infrastruktuur aan te val. Minstens 20 mense is dood en 32 gewond in die aanvalle op logistieke en wapenterreine. Irak sê hy sal enige skending van sy soewereiniteit uitdaag.
# Gholf: Die ervare Ryderbeker-speler Padraig Harrington gaan volgende jaar ‘n bestuursrol inneem nadat hy aangestel is as een van Span Europa se drie onderkapteins. Die 54-jarige Ier is ‘n driemalige Major-kampioen wat al ses keer in die kompetisie gespeel het. Harrington en die Molinari-broers van Italië, Eduardo en Francesco, sal die Engelsman Luke Donald se steunpilare wees op Adare Manor in Ierland, waar Europa gaan probeer om Amerika die derde agtereenvolgende keer te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-841-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-95-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-3-sent per vat
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….