Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Julie 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die politieke ontleder, Sandile Swana sê die aanstelling van professor Firoz Cachalia as waarnemende minister van Polisie is soos om ‘n man met ‘n wit pak in ‘n varkhok in te stuur. Hy sê die ministerie is deurtrek met faksiegevegte, inmenging en ondersoeke wat doelbewus lamgelê word.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die MK-party is bereid om president Cyril Ramaphosa se regterlike kommissie van ondersoek en aanstelling van Cachalia tot in die Konstutisionele Hof te beveg. Die party sê die aankondiging is ongrondwetlik en ‘n mors van geld.

Tweedens skryf die webblad oor die hofverskyning in Roodepoort van die 31-jarige Tiffany Meek vir die moord op haar 11-jarige seun Jayden-Lee. Die saak is uitgestel tot Vrydag.

En laastens word berig vier personeellede van die Silver Village-versorgingsoord in Welkom het in die hof verskyn nadat ‘n 81-jarige inwoner se hande na bewering vasgebind en sy mishandel is.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf gemiddeld 33 kinders word elke dag gewelddadig aangeval in Suid-Afrika, met ten minste drie van hulle wat dit nie oorleef nie. Die koerant berig dit plaas die moord op Jayden-Lee Meek in perspektief.

En tweedens word berig Suid-Afrika het bekendheid verwerp vir kommissies sonder gevolge. Hiervan getuig die WVK en die Marikana- en Zondo-kommissies.

# Sowetan:

Berig Cachalia sê as waarnemende minister van Polisie wil hy die mense se vertroue in die polisie herstel, want niemand voel meer veilig in die land nie.

# En The Citizen:

Skryf daar is talle vrae oor hoekom Ramaphosa nie sy kabinet skommel nie. Daar is poste wat gevul moet word en vrae oor ministers wat gebuk gaan onder bewerings van korrupsie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei soos Netwerk24 met die Jayden-Lee Meek-moordsaak.

En tweedens skryf die koerant die polisie het by ‘n huis in Goodwood beslag gelê op dwelmmiddels ter waarde van 54-duisend-rand.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n tugkomitee van die OP-rugbyunie kom vandag byeen om ondersoek in te stel na die toeskouers se ontwrigting van ‘n klubrugbywedstryd tussen tussen Gardens en Progress in Junie.

En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaap maak gereed vir die uitwerking van president Donald Trump se aangekondigde handelstariewe.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook oor die hofverskyning van Tiffany Meek vir die moord op haar 11-jarige seun.

En berig tweedens oor die nuwelinge wat uitblink in die Protea-krieketspan.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Namcor-Enercon-beskuldigde, Peter Elindi het die staat se bewerings weerlê dat die multimiljoendollar-transaksie wat sentraal staan in die Teenkorrupsiekommissie se saak ‘n misdadige skema was.

En tweedens skryf die koerant ‘n verdagte is vasgetrek vir die beweerde roof en verkragting van ‘n 61-jarige boervrou van die Aroab-omgewing.