Nuus 06:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê hy bly daartoe verbind om ‘n ondersteunende arbeidsmark te skep
# Fase 2- en 3- beurtkrag word tot verdere kennisgewing ingestel
# En, Amerika en Brittanje stel sanksies in teen vier senior Hamas-leiers en twee finansiers
# Die regering sê die geringe maar merkbare toename in indiensneming en die afname in werkloosheidsyfers weerspieël gesamentlike pogings om die uitdaging van werkloosheid in die land aan te spreek. Die kwartaallikse arbeidsmagopname dui aan dat die aantal werkende mense in die derde kwartaal met 399-duisend tot 16,7-miljoen toegeneem het. Die aantal werklose mense het met 72-duisend tot 7,8-miljoen afgeneem. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering sal voortgaan om beleide te implementeer wat beleggings aanmoedig, ekonomiese aktiwiteit stimuleer en vernuwing bevorder, wat alles bydra tot volgehoue werkskepping.
ActionSA dring intussen aan op ‘n sterk ekonomiese beleid in ‘n poging om die aanhoudende werkloosheidskrisis aan te pak, aangesien Statistiek Suid-Afrika se data ‘n werkloosheidsyfer van 31,9-persent toon. Die party stel omvattende maatreëls voor, soos om die energiemark bestendig te kry, die vermindering van vakbond-invloed en die verligting van sakeregulasies om werkskepping te stimuleer. Die leier, Herman Mashaba, bepleit staatsveilige lenings om klein ondernemings te ondersteun en die modernisering van die mark om kragonderbrekings te bekamp. Hy versoek ook die regering om rompslomp met ekonomiese groei te sny:
Speel klankgreep: ENG MashabaOnJobCreation
# Eskom het fase twee-beurtkrag van vyfuur vanoggend tot vieruur vanmiddag ingestel, gevolg deur fase drie tot vyfuur môreoggend. Die kragvoorsiener se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hoewel sommige opwekkingseenhede sedert Sondag weer in gebruik is, is daar vertragings met ander. Sy sê as gevolg van hierdie vertragings met die heringebruikneming van die eenhede en die behoefte om noodreserwes te bewaar, moet beurtkrag voortduur:
Speel klankgreep: ENG MokwenaOnLoadshedding
# Die Wes-Kaapse provinsiale kapingstaakspan het ‘n soektog van stapel gestuur na ‘n groep mans wat vermoedelik betrokke was by ‘n sakeroof en poging tot moord in Nyanga, Kaapstad. Polisiewoordvoerder, Joseph Swartbooi, sê volgens berigte het die mans ‘n winkelsentrum binnegegaan, hulle voorgedoen as klante, die personeel gedreig en met ‘n vuurwapen van kontant beroof. Hy sê toe die verdagtes van die toneel gevlug het, het hulle ‘n patrollievoertuig van die Nyanga-polisie met vier insittendes by die ingang opgemerk:
Speel klankgreep: ENG SwartbooiOnRobbery
# Amerika en Brittanje het sanksies gekoördineer wat ontwerp is om die Palestynse militante groep Hamas-operasies te ontwrig, en op vier van sy senior leiers en twee finansiers gerig is. Die sanksies sluit in ‘n reisverbod, bevriesing van bates asook ‘n wapenverbod. Die nuut aangestelde Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, sê hulle sal voortgaan om saam met die VSA en ander bondgenote, alles tot hul beskikking te gebruik om die afskuwelike aktiwiteite van hierdie terreurorganisasie te ontwrig. Dit sal dit moeiliker maak vir Hamas om te funksioneer en hulle wêreldwyd isoleer.
# Rugby: Die Ierse Verenigde Rugbykampioenskapspan Connacht gaan in Suid-Afrika toer sonder sleutel-toetsspelers. Bundee Aki, Santiago Cordero en Mack Hansen is afwesig terwyl Connacht voorberei vir ‘n wedstryd teen die Haaie in Durban dié Saterdag, gevolg deur ‘n kragmeting met die Bulle in Pretoria. Ondanks die drie se afwesigheid is Connacht in ‘n stewig vyfde plek op die punteleer na slegs een nederlaag in die seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 35-duisend-590-dollar-5-sent. Die prys van goud is een-duisend-962-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….