Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Julie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Tesourie het kommer uitgespreek oor die Wet op Nasionale Staatsondernemings, insluitend die stigting van ‘n sentrale houermaatskappy vir staatsondernemings. Die Tesourie sê dis onduidelik of beleggers gaan instem tot die stap.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minster van Polisie, Senzo Mchunu verkeer onder groot druk namate die gevolge van die uitlatings deur die kommissaris van polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi uitkring. Die koerant skryf die portefeuljekomitee, en ANC se intergriteitskomitee stel ondersoek in terwyl daar ook strafregtelike klagtes ingedien word.
Dan skryf die webblad oor die klopjag wat by die Kgosi Mampuru III-gevangenis in Pretoria uitgevoer is. Daar is op groot hoeveelhede dwelms, selfone en ander elektroniese toerusting beslag gelê.
En laastens is daar tennisnuus. Novak Djokovic het vir ‘n rekord 14de keer deurgedring na die Wimbledon-halfeindronde.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Lei met: “WHEN WILL RAMAPHOSA FIRE MCHUNU?” Die koerant skryf president Cyril Ramaphosa sal waarskynlik nie onmiddellike stappe doen teen polisieminister Senzo Mchunu nie. Daar word verwag dat hy eers met diegene wat regstreeks betrek word sal praat.
# Sowetan:
Berig ‘n Ekurhuleni-kantoorblok is ná agt jaar en 300-miljoen-rand steeds nie gerestoureer nie. Daar is aanvanklik 46-miljoen-rand vir die projek begroot. Die koerant skryf daar is sowat 70-miljoen-rand wat nooit goedgekeur is nie aan kontrakteurs betaal.
# En The Citizen:
Skryf daar is meer as 300 skole in Gauteng wat geen krag of water het nie. Dit is meestal skole in arm gebiede wat tot 60-miljoen-rand agterstallig is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Mchunu.
En tweedens skryf die koerant die verslag oor die ongeluk in Kommetjie in 2023 waarin drie lede van die vloot omgekom het, is aan die Valke oorhandig. Die families van die slagoffers sê hulle het nog nie die verslag gesien nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar lê ‘n donker tyd voor vir die Oos-Kaap aangesien president Trump se tariefbesluit duisende werksgeleenthede bedreig en nuwe kommer laat ontstaan oor die toekoms van Mercedes-Benz SA.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Nersa het die verhoogde kragtariewe van die Msunduzi-munisipaliteit verwerp.
En tweedens word berig dit het aan die lig gekom dat die meeste graad R-onderwysers nie opgelei is nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Independent Patriots for Change sê hy word doelbewus uitgesluit aangesien sy leier die hoëprofiel-staatsbesoek van die Indiese eerste minister misgeloop het.
Dan skryf die koerant ‘n onderwyser is na bewering deur een van sy voormalige leerders in die aanhoudingselle in Rundu verkrag.
En laastens is daar nuus oor ‘n Belg wat nou Namibiër is, se speserymengsel wat baie gewild is.