Nuus 06:00
BULLETIN 10 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan vandag strafregtelike klagte teen minister Mchunu indien
# Rise Mzansi sê ‘n parlementêre ondersoek na die bewerings oor die polisie is nie genoeg nie
# En amptenare in Texas word gekritiseer oor hul hantering van die oorstromings
# Die DA gaan vandag by die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie strafregtelike klagtes indien teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Dit volg ná plofbare aantygings deur die polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, waarin Mchunu beskuldig word van inmenging by hoëprofiel-ondersoeke en die ontbinding van ‘n taakspan wat politieke moorde ondersoek het. Mkhwanazi het die minister ook verbind aan die omstrede sakeman, Vusumuzi ‘Cat’ Matlala, wat in Mei in hegtenis geneem is vir poging tot moord. Die party sê Mchunu se optrede is niks anders as regsverydeling en magsmisbruik nie.
Rise Mzansi sê intussen die parlementêre ondersoek na bewerings van politieke inmenging is nie genoeg nie, en moedig president Cyril Ramaphosa aan om dringend in te tree. Die party vra vir ’n kommissie van ondersoek, onder leiding van ’n afgetrede regter, om die aantygings wat Mkhwanazi gemaak het, ten volle te ondersoek. Makashule Gana van Rise Mzansi sê Ramaphosa moet nou optree aangesien die krisis in die polisie die land se sekerheid bedreig:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor die Staatsdiens en Administrasie verwelkom die besluit van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om drie kritieke oorsigte op besteding in te stel. Dit sal fokus op die standaardisering van die vergoeding van bestuurders en raadslede van staatsinstellings, die ouditering en uitskakeling van spookwerkers, en die ondersoek na onderbesteding van voorwaardelike infrastruktuurtoelaes op provinsiale en munisipale vlakke. Die voorsitter, Jan de Villiers, sê dis daarop gemik om die doeltreffendheid, integriteit en ontwikkelingsuitwerking van regeringsuitgawes te verbeter.
# Die Landdroshof in Humansdorp het borgtog geweier aan ‘n sakeman van Gqeberha, Robert Evans, wat aangekla word van moord met voorbedagte rade op sy meisie, Vanessa van Rensburg. Haar liggaam is op Paas-Sondag in sy vakansiehuis op Oesterbaai ontdek. Evans staan ook tereg op aanklag van ontvoering, poging tot moord en regsverydeling. Luxolo Tyali van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die hof het beslis Evans kon nie buitengewone omstandighede vir borgtog lewer nie en die saak is tot 18 Augustus uitgestel:
# Amptenare in Texas word al hoe meer deur die media en die gemeenskap gekritiseer oor hoeveel hulle gedoen het, of nie gedoen het nie, voor die Guadaluperivier oorstroom het. Vyf dae na die oorstromings kan amptenare steeds nie ‘n tydskaal van die gebeure voorsien nie. Minstens 110 mense is dood en nog 170 mense is na die katastrofiese vloede steeds vermis. Reddingspogings duur voort, maar daar is talle onbeantwoorde vrae oor wat gedurende die kritieke ure gebeur het, of bestaande waarskuwingstelsels gewerk het en of bykomende voorbereidings voor die vloede moontlik meer lewens sou kon red.
# Motorsport: Red Bull se Formule Een-span het die aanstelling van die Franse ingenieur Laurent Mekies as nuwe uitvoerende hoof bevestig nadat Christian Horner onseremonieel afgedank is. Die Brit was die laaste 20 jaar in die posisie en het aan die media gesê geen redes is verstrek nie. Mekies sluit aan vanaf Red Bull se suster-span, Racing Bulls, met wedrendirekteur Alan Permane wat bevorder is tot spanhoof van daardie span. Red Bull, wat reeds agt bestuurders- en ses vervaardigerskampioenskappe ingepalm het, is tans vierde in die kampioenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-514-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-318-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….