Nuus 16:00
BULLETIN 14 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die bekentenisse van beskuldigde 1 en 2 in die Meyiwa-moordsaak word toegelaat
# Die VF Plus pak die kommerwekkende styging in ontvoerings in Mpumalanga
# En, rugby: Werner Kok verruil die Haaie vir Ulster
# Regter Ratha Mokgoatlheng het beslis bekentenisse deur die beskuldigdes Muzikawukhulelwa Sibiya en Bongani Sandiso Ntanzi in die moord op die sokkerster Senzo Meyiwa in 2014 is toelaatbaar. Die hof het bevind die bekentenisse is vryelik en vrywillig gemaak, en verwerp aansprake dat hulle gedwing is. Die regter het sy uitspraak gelewer na ‘n binneverhoor nadat die beskuldigdes beweer het daar was polisiedwang:
# Die VryheidsFront Plus in Mpumalanga het voorstelle by die provinsiale wetgewer ingedien om die kommerwekkende styging in ontvoerings hok te slaan. Die grootste toename in ontvoerings is in die Ehlanzeni-gebied aangeteken. Mensehandel bly ‘n dringende probleem in die provinsie. Werner Weber van die VF Plus sê studies toon die toename in ontvoerings word gekoppel aan die aansienlike groei in gewelds- en georganiseerde misdaad:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die toelaag van 350-rand vir maatskaplike noodhulp sal van die eerste van volgende maand verhoog word met 20-rand. Hierdie besluit volg ná president Cyril Ramaphosa se verbintenis om die toelae uit te brei en te verbeter, sedert dit in Mei 2020 bekendgestel is om die armstes tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun. Dit help nou sowat nege-miljoen mense teen ‘n koste van 33,6-miljard-rand. Ander maatskaplike toelaes sal ook verhoog word, insluitend die ouderdomstoelaag, kinderondersteuningstoelaag en ongeskiktheidstoelaag.
# ‘n Voormalige lid van die Oos-Duitse geheime polisie word vandag in Duitsland verhoor omdat hy ‘n Poolse man geskiet het wat amper 50 jaar gelede na Wes-Berlyn probeer vlug het. Die 80-jarige beskuldigde, wat deur die hof as Martin N. geïdentifiseer is, word aangekla van die moord op Czeslaw Kukuczka by ‘n grensoorgang in die stad. Die vertraging om die aanklag in te dien illustreer die uitdagings wat Duitsland moet trotseer om Oos-Duitse amptenare aan te kla vir misdade wat die kommunistiese regering gepleeg het in sy poging om burgers te keer om na die Weste te ontsnap.
# Rugby: Die voormalige Blitsbok-ster Werner Kok verlaat die Haaie aan die einde van die seisoen en sluit hom by Ulster in Ierland aan. Dit volg op die vertrek van Rohan Janse van Rensburg en Le Roux Roets. Kok het in 55 wedstryde vir die Durbanse span gespeel nadat hy in 2020 by hulle aangesluit het. Die Springbok-senter André Esterhuizen sal na verwagting terugkeer na die Haaie nadat hy weg is by die Engelse klub Harlequins. Die span het ook kontrakte gesluit met Wêreldbeker-wenner Trevor Nyakane en Jason Jenkins.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-990-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-167-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….