Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering en sakelui stem saam oor dringende optrede om momentum te handhaaf
# Die minister dink nie dis nodig om ‘n ramptoestand af te kondig oor die ineenstorting van waterinfrastruktuur nie
# En, boks: Nuwe lede word aangekondig op die raad van Boks SA
# Die sakewêreld en die regering stem saam, hoewel daar vordering is, word dringende optrede benodig om te verseker die momentum word behou. President Cyril Ramaphosa het gister die twee-maandelikse vergadering van sakelui en die regering aangebied om inligting te deel oor vordering met belangrike uitdagings in die ekonomie. Daar is veral gefokus op energie, vervoer en logistiek, misdaad en korrupsie. Luidens ‘n gesamentlike verklaring kan sukses wat op hierdie gebiede behaal word, ongeveer drie-persent se BBP-groei op mediumtermyn en vyf-persent groei op die langer termyn bydra. Hulle sal vroeg volgende jaar weer vergader.
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, is geensins van plan om president Cyril Ramaphosa te versoek om ‘n ramptoestand te verklaar weens die ineenstorting van waterinfrastruktuur dwarsoor die land nie. Mchunu beklemtoon munisipaliteite ontvang jaarliks aansienlike befondsing en is self verantwoordelik om hul waterinfrastruktuur in stand te hou. Hy bevestig ook die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste word binnekort ter tafel gelê, waarvolgens slegs instellings met waterlisensies watersuiweringsaanlegte mag bedryf. Volgens Mchunu is die primêre doelwit om die dringende kwessie van die ineenstorting van waterinfrastruktuur op te los.
# Die Wes-Kaapse Parlement se Staande Komitee oor Infrastruktuur het die Wetsontwerp op Onteiening verwerp en sê dit is gebrekkig en ongrondwetlik in sy huidige vorm. Die wetsontwerp wil onder meer voorsiening maak vir die onteiening van eiendom vir ‘n openbare doel of in die openbare belang. Die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor Infrastruktuur, Matlhodi Maseko, sê die komitee het gehoor die wetsontwerp sal eiendomsreg vir burgers in gevaar stel en dien as ‘n afskrikmiddel vir ekonomiese belegging in die provinsie:
# Pous Franciskus het sy beplande reis na Dubai vir die Cop28-klimaatberaad afgestel weens siekte. Die Vatikaan berig griepsimptome by die 86-jarige pous het dokters bekommerd. ‘n CT-skandering toon moontlike longkomplikasies. Die Vatikaan se woordvoerder, Matteo Bruni, sê die pous se gesondheid is aan die verbeter. Hy sou die eerste pous op die beraad wees sedert die eerste samekoms in 1995. Die pous is bekend vir sy voorspraak vir die omgewing en het onlangs beklemtoon dit is noodsaaklik om die omgewing te beskerm tydens sy termyn van tien jaar.
# Boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het ‘n nuwe raad vir Boks Suid-Afrika aangestel om die administratiewe uitdagings wat die organisasie kniehalter, te bowe te kom. Die beheerliggaam is sonder ‘n uitvoerende hoof sedert die hofgeding van voormalige uitvoerende hoof, Moffat Qithi. Die termyn van die bestaande raad eindig op die 11de van volgende maand, terwyl die termyn van die nuutaangestelde raad, onder die voorsitterskap van Sifiso Shongwe, die volgende dag begin en tot 11 Desember 2026 duur. Volgens Kodwa is ander raadslede onder meer Princess Mangoma, Nande Mheshe, Sakhiwe Sodo, Luxolo September, Romy Titus en Mary-Gene Manthata-Setati:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-88-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-39-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….