Nuus 11:00
BULLETIN 21 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa wens Putin geluk met sy herverkiesing
# LUR Lebogang Maile en burgemeester Kabelo Gwamanda hou vergadering by die Diepkloof-hostel
# En, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement versterk sekuriteit by skole gedurende vakansies
# President Cyril Ramaphosa het Vladimir Putin gelukgewens met sy herverkiesing as president van die Russiese Federasie. Ramaphosa het weer die twee lande se verbintenis tot samewerking op multilaterale vlak beklemtoon, wat lidmaatskap van die Verenigde Nasies, die G20, BRICS en ander multilaterale organisasies insluit. Hy sê Suid-Afrika glo in die volhoubaarheid van internasionale vrede en sekerheid en sal voortgaan om met die Russiese Federasie en Oekraïne te beraadslaag om langdurige vrede tussen die twee buurlande te bewerkstellig.
# Gauteng se LUR vir Menslike Nedersettings en Infrastruktuurontwikkeling, Lebogang Maile, en Johannesburg se burgemeester Kabelo Gwamanda, vergader vandag met hoofmanne en die organiseerders van betogers by die Diepkloof-hostel. ‘n Woordvoerder van die departement, Tahir Sema, sê die vergadering volg nadat kwessies Dinsdag tydens Maile se besoek aan die gebied geopper is. Inwoners eis beter behuising en sê hulle leef onder haglike omstandighede:
# Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys gaan veiligheidsmaatreëls by skole verskerp gedurende die vakansie. Die LUR vir Onderwys, David Maynier het gemeenskappe versoek om verdagte aktiwiteite aan te meld, en sodoende diefstal en vandalisme by skole te help voorkom. Verlede jaar Desember is 24 skole in die Wes-Kaap geteiken. Maynier sê gemeenskapsbetrokkenheid is uiters noodsaaklik vir die beveiliging van skole en om misdaad doeltreffend te bekamp:
Krieket: ‘n Reusebydrae deur Bryce Parsons en Jon-Jon Smuts het die Dolphins tot ʼn oorwinning van 30 lopies oor die Titans gelei. Die Krieket Suid-Afrika T20-wedstryd gisteraand in Centurion is erg deur reën gekortwiek en tot 14 boulbeurte per span beperk. Parsons was die ster met 102 van 48 balle terwyl Smuts perfekte ondersteuning gebied het met 61 van 33 om die besoekers se telling op 183 vir een te staan te bring in hulle 14 boulbeurte. Die Titans kon in antwoord daarop net 152 vir vyf behaal. Die Dolphins is nou derde op die punteleer.
#En ten slotte, ‘n onlangse studie beklemtoon kinders so jonk as vier ervaar gewrigsprobleme as gevolg van vetsug, ‘n wêreldwye tendens wat die helfte van Suid-Afrika se bevolking raak. Sowat 13-persent van Suid-Afrikaanse kinders onder vyf is oorgewig. Vetsug hou verskeie gesondheidsrisiko’s in, onder meer tipe 2-diabetes, hartsiektes en gewrigsprobleme. Die verslag dui aan 3-persent van vier- tot vyf-jarige kinders en 8-persent van tien- tot elf-jariges het ten minste al een doktersafspraak gehad oor gewrigsprobleme. Die gewrig- en knieprobleme word veroorsaak deur die oormaat gewig wat gedra word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….