Nuus 09:00
BULLETIN 4 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê geweld wat tieners se lewens eis beroof die land van sy toekoms
# Oekraïne sal Russiese raffinaderye teiken ná Moskou se lugaanvalle
# En rugby: Oorwinnings vir die Haaie en die Leeus in die Verenigde Rugbykampioenskap se 2de ronde
# Die regering veroordeel die moord op 14-jarige tweelingbroers in Mamelodi-Wes in Tshwane. Die tweeling se ma het haar seuns Vrydag dood in hul huis aangetref toe sy van die werk af kom. Die polisie sê die omstandighede rondom die voorval is steeds onduidelik en ondersoeke duur voort. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, bepleit die spoedige inhegtenisneming van die skuldiges en vra inwoners om die polisie met enige inligting te help:
Die organisasie vir maatskaplike geregtigheid en menseregte, Not In My Name International, het intussen ook die moord veroordeel. Die organisasie se president, Themba Masango, sê hulle staan die gesin by en vra die polisie om die verantwoordelikes vinnig in hegtenis te neem. Masango vra ook enigeen met inligting om die polisie te help en waarsku mense om nie ontstellende foto’s of onbevestigde bewerings te versprei nie:
# Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, sê Suid-Afrika en Egipte beweeg aan vanaf gesprekke na die uitvoering van planne om ekonomiese samewerking te versterk. Tau het op die Afrika-motorbeleggingsforum in Egipte gesê daar is geleenthede vir samewerking op gebiede soos motorvervaardiging, logistiek en nywerheidsparke. Hy sê die twee lande wil handel en beleggings uitbrei en ander Afrika-streke betrek by ‘n netwerk van sleutelekonomieë. Tau beklemtoon die vasteland bied beduidende geleenthede vir nywerheidsontwikkeling:
Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika sê intussen die land se mark vir nuwe voertuie toon steeds groei, met verkope wat in September 12,7-persent hoër was as in dieselfde maand verlede jaar. NAAMSA sê 61-duisend-645 voertuie is in die maand verkoop. Verkope van passasiersmotors het met bykans 15-persent gestyg, terwyl verkope van bakkies, afleweringsvoertuie en minibustaxi’s ook toegeneem het. Die voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging, Brandon Cohen, sê die vraag bly sterk ondanks druk op huishoudelike begrotings en hoër leningskoste. Hy sê bekostigbaarheid bly ‘n belangrike oorweging vir kopers.
En nou na die buiteland:
# Die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, sê sy land sal aanvalle op Russiese olieraffinaderye verskerp ná Moskou se nuwe beleid oor lugaanvalle wat mense wil dwing om Kiëf en ander stede te verlaat. Oekraïnse intelligensie het dokumente bekom wat aandui die Russiese president, Vladimir Putin, het ‘n nuwe aanvalstrategie teen burgerlike teikens goedgekeur. Zelensky sê Putin probeer wys hy is steeds in beheer, terwyl Russiese magte belangrike grondgebied verloor en en toenemende verliese ly.
# En rugby: Die Haaie, Leeus en Bulle was gister in die Verenigde Rugbykampioenskap in aksie. Die Haaie het die verdedigende kampioen, Leinster, op Kingspark met 26-20 geklop en ‘n bonuspunt-oorwinning behaal. Edwill van der Merwe het die deurslaggewende drie laat in die wedstryd gedruk. Die Leeus het ook hul tweede oorwinning in twee wedstryde behaal toe hul die Ospreys met 35-19 op Ellispark verslaan het, met vyf drieë in die tweede helfte. Die Bulle het egter hul eerste nederlaag die seisoen gely toe hulle ondanks drie drieë met 26-22 vasgeval het teen Munster op Thomondpark.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….