Nuus 11:00
BULLETIN 1 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Change Starts Now onttrek deelname aan die 2024-verkiesing
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra regering om etiese infrastruktuurbeleggings voorop te stel
# En tennis, Venus Williams, Caroline Wozniacki en Emma Raducanu word as promotorskeuses vir Miami Ope ingesluit
# Die nuwe Change Starts Now-party het ‘n week na die bekendstelling van sy manifes besluit om aan die algemene verkiesing te onttrek. Die leier, Rodger Jardine, sê die Konstitusionele Hof se onlangse beslissing en die struikelblokke wat dit veroorsaak, beteken nuwe politieke partye moet aan ʼn nadelige logistieke tydrooster voldoen om vir die stembrief van 29 Mei te kwalifiseer. Die Konstitusionele Hof weier om ʼn uitdaging teen die Verkiesingswysigingswet aan te hoor oor die aantal handtekeninge wat nuwe partye moet hê om vir die verkiesing te registreer. Jardine sê hulle sal politieke partye ondersteun wat dieselfde waardes en doelstellings het.
# Die Vereniging van Staatsamptenare moedig die regering aan om nie geld van die Staatswerknemers-pensioenfonds te gebruik as reddingsboeie vir sukkelende staatsondernemings nie. Die vereniging is sterk gekant teen die gebruik van pensioenfondsgeld, en beklemtoon die belangrikheid van die beskerming van afgetredenes se finansiële bestendigheid. Hulle staan beleggings voor in infrastruktuurprojekte om ekonomiese groei en werkskepping aan te help en onderstreep die belangrikheid van deursigtige en verantwoordelike regeringsoptrede. Claude Naiker van die vereniging vra verstandige en etiese beleggings om te sorg almal se toekoms word verseker:
# Die DA in Gauteng sê dis nie ʼn verrassing dat premier Panyaza Lesufi terugkrabbel oor sy belofte dat motoriste nie meer hul e-tolskuld hoef te betaal nie. Lesufi het in Januarie verlede jaar in die nuus gekom toe hy verklaar het 6,9-miljard-rand se e-tolgeld wat betaal is, sal terugbetaal word. Fred Nel van die DA sê dit lyk ook of geen ooreenkoms nog met die nasionale regering bereik is om e-tol te skrap nie:
# Die Distrikshof in Auckland, Nieu-Seeland het opdrag gee dat vergoeding van 115-miljoen-rand betaal word aan slagoffers van die White-eiland-vulkaanramp. In Desember 2019 het 47 mense die vulkaan besoek toe dit uitbars en 22 lede van die groep gesterf het. Baie slagoffers is deur skroeiende gas en as gebrand. Sewentien van die toeriste wat dood is, was van Australië, en die ander van lande soos Amerika, Duitsland en China. Die hof het bevind die vier toerleiers en die eiland se eienaar, Whakaari Management, het nie die toeriste se veiligheid verseker nie.
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioene, Venus Williams van Amerika, Caroline Wozniacki van Denemarke en die Brit Emma Raducanu, is as promotorskeuses in die Miami Ope ingesluit. Wozniacki, ‘n finalis in 2017, keer vir die eerste keer sedert 2019 na die tennisbaan terug nadat sy drie jaar gerus het ná die geboorte van haar twee kinders. Die 2022-kampioen, Iga Swiatek van Pole, en die wenner van die Australiese Ope, Aryna Sabalenka van Belarus, is van die top gekeurdes wat van 17 Maart af in die toernooi speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-16-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-584-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-47-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….