Nuus 12:00
BULLETIN 21 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vermeende reeksverkragter word aangekeer vir die verkragting van 14 vroue in KwaZulu-Natal en Gauteng
# Krieket: Die Protea-vroue se afrigter is tevrede met die groep se diepte ná die toer in Zimbabwe
# En hoë voedselkoste vererger wanvoeding onder kinders
# ‘n Ses-en-dertigjarige man is aangekeer vir die verkragting van 14 vroue in KwaZulu-Natal en Gauteng. Die polisie sê sy eerste beweerde aanval was in Januarie 2020 in Mahlabathini, KwaZulu-Natal. Hy is aangekeer en op borgtog vrygelaat, waarna hy verdwyn het. Woordvoerder Robert Netshiuna sê die man het daarna na bewering sewe vroue verkrag in Pongola, een in Paulpietersburg en een in Magudu, almal in KwaZulu-Natal, en vier in Germiston, Gauteng:
# Die Gautengse regering verwelkom die deurbraak in die polisie-ondersoek na die moord op die negende slagoffer in die reeks moorde op vroue in Ekurhuleni. ‘n Man en twee vroue is in hegtenis geneem in verband met die moord op die 28-jarige Gracious Nkomo, wie se liggaam verlede week in Dawnpark, Boksburg, gevind is. Die provinsie se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê hulle verwelkom ook die inperking-operasies in Kemptonpark:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n ondersoek gelas na die Morial-infrastruktuurgroep. Dit handel oor die maatskappy se bande met die sakeman Lawrence Mudzingayima, wat op video betrap is waar hy ‘n groep vroue dreig in ‘n restaurant in Sandton, Johannesburg. Macpherson is bekommerd oor bewerings dat die maatskappy op dieselfde dag veelvuldige graderings van die Boubedryf-ontwikkelingsraad ontvang het. Hy sê die maatskappy voldoen dalk ook nie aan die vereistes vir sommige van die graderings nie, wat uiteindelik gebruik is om staatskontrakte te bekom.
# Krieket: Die Protea-vroue se hoofafrigter, Mandla Mashimbyi, sê hulle het hul doelwitte op die Zimbabwiese toer bereik en ook meer spelers ‘n geleentheid gegee. Suid-Afrika het 5-0 skoonskip gemaak in hul geskiedkundige eerste T20-reeks teen hul buurvroue. Kaptein Laura Wolvaardt en Miané Smit het uitstaande vertonings gelewer en honderdtalle aangeteken. Annerie Dercksen het in die derde wedstryd vyf paaltjies laat kantel. Mashimbyi sê alle spelers wat van nou af gekies word, kan vir 2029 se Wêreldbekertoernooi in aanmerking kom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-915-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-353-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Pietermaritzburgse Ekonomiese Geregtigheids- en Waardigheidsgroep sê hoë vlakke van wanvoeding en agterstande in kinder-ontwikkeling sal voortduur omdat gesinne weens stygende lewenskoste die hoeveelheid en gehalte van kos moet inperk. Koördineerder Mervyn Abrahams het aan Newzroom Afrika gesê pensioentrekkers en huishoudings wat afhanklik is van staatstoelaes word die swaarste getref. Hy sê die hoë koste van basiese benodigdhede beteken huishoudings het minder geld vir kos, wat wanvoeding onder kinders vererger:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….