Nuus 06:00
BULLETIN 29 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 5- en 6-beurtkrag word tot Saterdag ingestel
# Minister Mantashe sê die regering sal voortgaan om in die verbetering van mynveiligheid te belê
# En, reuseverligting toe 41 Indiese werkers na 17 dae uit ‘n ineengestorte tonnel gered word
# Eskom sê fase vyf-beurtkrag is om vyfuur vanoggend ingestel en sal tot agtuur vanaand duur. Daarna geld fase ses tot vyfuur môreoggend. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die hoër beurtkragfases is weens onvoldoende opwekkingsvermoë en om noodreserwes verder aan te vul:
# Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, sê die regering sal voortgaan om te belê in die verbetering van myngesondheid en -veiligheid, sodat mense kan gaan werk en lewendig terugkom. Dit volg nadat elf mynwerkers dood is in ‘n skagongeluk by die Impala Platinum-myn in Rustenburg, Noordwes. Die hysbak wat werkers na die oppervlak vervoer het blykbaar onverwags begin aftuimel en meer as 70 werkers is beseer. Mantashe sê die tragedie word ondersoek:
# Die Parlement het die adjunkminister van Kleinsake-ontwikkeling, Dipuo Peters, vir ‘n parlementêre termyn geskors omdat sy die etiese kode vir lede oortree het. Dit volg nadat die gesamentlike komitee op Etiek en Ledebelange haar skuldig bevind het aan drie oortredings terwyl sy minister van Vervoer was. Die Parlement het ook besluit om nege dae se salaris van die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, af te trek omdat hy nagelaat het om 180-duisend-rand se betalings van VBS Mutual Bank in 2017 te verklaar.
# Gauteng se LUR vir Finansies, Jacob Mamabolo, sê hulle sal teen die 15de van volgende maand ‘n voorstel aan die nasionale regering voorlê, wat planne uiteensit om die provinsie se deel van die e-tolskuld te delg. Hy het gister die provinsie se Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring gelewer. Die LUR erken dis ‘n risiko vir Gauteng se fiskus om die uitdagings op te los wat met die verhoging van inkomste verband hou, ten einde 12,9 miljard-rand, of 30-persent, van die provinsie se e-tol-skuld te vereffen. Mamabolo sê die deurgangshekke moet afgeskakel word en heraangewend word vir sekuriteit, misdaadvoorkoming en padverwante wetstoepassingsdienste.
# Al 41 bouwerkers wat in ‘n ingevalle tonnel in Indië vasgekeer was, is na veiligheid gebring. Die eintlike reddingspoging het net meer as ‘n uur geduur toe spanne gelei deur sogenaamde rot-mynwerkers die groep uiteindelik kon bereik na dae se geboor deur rotse en puin. Die werkers is op draagbare uitgestoot deur ‘n pyp van 90-centimeter in deursnee. Hulle het tydens hulle nagmerrie kos, water, lig, suurstof en medisyne ontvang deur ‘n nou staalpyp, maar ‘n reeks probleme het verhoed dat reddingswerkers hulle voor gister kon bereik.
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het die wysiging van sport-wetgewing bevestig in ooreenstemming met aanbevelings van die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels. Dit volg op WADA se stelling in September dat Suid-Afrika se bestaande wetgewing nie aan die wêreldkode teen verbode middels voldoen het nie. Die Wysigingswetsontwerp op die Afrika-instituut vir Dwelmvrye Sport is nou gefinaliseer. Kodwa bevestig ook Suid-Afrika se verbintenis om gasheer van die WADA Afrika-streekkantoor in Kaapstad te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-26-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-49-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….