Nuus 15:00
BULLETIN 22 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA beskuldig Ramaphosa van die vertraging van geregtigheid in die sage van Chauke se skorsing
# Krieket: Indië moet ‘n moeilike besluit neem voor die voorlaaste toets teen Engeland môre op Old Trafford begin
# En mense klop kunsmatige intelligensie op die Internasionale Wiskunde-olimpiade
# ActionSA sê die skorsing van die Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, moes lankal gebeur het en beklemtoon die voortgesette vertragings in die hervorming van die regstelsel. Die party beskuldig president Cyril Ramaphosa dat hy sy voete sleepm want in 2023 het die hoof van die Nasionale Vergolgingsgesag, Shamila Batohi, al gevra vir Chauke se skorsing. Athol Trollip van ActionSA sê Chauke word gekoppel aan verskeie twyfelagtige besluite, insluitend die terugtrek van korrupsie-aanklagte teen Zizi Kodwa:
ActionSA sê ook Ramaphosa se aanstelling van Buti Manamela as minister van Hoër Onderwys en Opleiding is nie iets om te vier nie. Die party sê Manamela is al sedert 2017 ‘n adjunkminister en is in die middel van die departement se agteruitgang. Malebo Kobe van ActionSA sê sy bevordering is ‘n verbeurde geleentheid om behoorlik huis skoon te maak. Sy voeg by dat ActionSA aanhoudend vra vir betekenisvolle hervormings om hierdie sektor om te keer:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sal borgtog teenstaan vir een van die vier beskuldigdes in die moord op DJ Sumbody in 2022. Die beskuldigdes, insluitend die voormalige provinsiale bestuurder van die Nasionale Loteryraad in Gauteng, Katiso KT Molefe, het vanoggend in die Alexandra Landdroshof verskyn. Die polisie het bevestig die moordwapen is gekoppel aan tien ander misdade, insluitend die moord op Armand Swart, wat verkeerd geïdentifiseer is nadat sy maatskappy die fluitjie geblaas het oor ‘n Transnet-tender. Phindi Mjonondwane van die NVG beskryf dit as ‘n groot deurbraak:
# Krieket: Indië moet ‘n moeilike besluit neem voor die voorlaaste toets teen Engeland môre op Old Trafford begin. Die besoekers loop 1-2 agter en moet besluit of hulle die wêreld se beste toetsbouler gaan insluit. Jasprit Bumrah sukkel met ‘n rugbesering en daar is vooraf besluit hy sal slegs in drie toetse speel. Hy het reeds twee gespeel, maar met die reeks in die weegskaal, is dit ‘n waagstuk om hom in die vierde toets in te sluit of te hou vir ‘n moontlike beslissende vyfde toets.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-988-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-90-sent per vat.
# En laastens, die mense het skeppende modelle van Kunsmatige Intelligensie deur Google en Open-A-I uitoorlê op die internasionale Wiskunde-olimpiade in Queensland, Australië. Nie een van die modelle kon volpunte behaal nie, terwyl vyf jongmense dit wel kon doen op die jaarlikse kompetisie vir deelnemers jonger as 20. Google sê ‘n gevorderde weergawe van sy Gemini-kletsbot het vyf van die ses wiskundeprobleme opgelos. Dit is ‘n punt van 35 uit ‘n moontlike 42, wat die eerste gouemedalje-punt is. Sowat tien-persent van die deelnemers het goue medaljes gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….