Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: ‘n Onafhanklike tugkomitee het ʼn klagte teen die Bulle se flank, Cameron Hanekom, van die hand gewys en hy is nou beskikbaar vir môre se Rugbykampioenskap-kragmeting met Munster op Loftus. Hy is uitgewys na sy geelkaart vir ʼn gevaarlike hoogvat op die binnesenter Fraser Dingwall in verlede week se nederlaag teen die Northampton Saints in die Kampioenebeker-kwarteindstryd. Die komitee het die klagte verwerp en sê Hanekom is wel skuldig aan vuilspel, maar dit regverdig nie ʼn rooikaart nie.
Die gewese Springbok-afrigter Jacques Nienaber is intussen saam met Leinster terug in Suid-Afrika vir môre se VRK-wedstryd teen die Leeus op Ellispark in Johannesburg. Die Ierse reuse is boaan die VRK-punteleer en sal ook aan die Kampioenebeker se halfeindronde deelneem. Leinster se hoofafrigter, Leo Cullen, het Nienaber se invloed geloof:
# Gholf: Die Amerikaner JT Poston het agt onder baansyfer 63 aangeteken vir ‘n voorsprong van twee houe voor sy landgenoot, Collin Morikawa, en Seamus Power van Ierland na die eerste ronde van die PGA-Toer se RBC Heritage-toernooi in Amerika. Die wêreld-nommer een en Meesterskampioen, Scottie Scheffler van Amerika, het ná ʼn onseker begin herstel en op twee onder 69 geëindig. Die wêreld-nommer twee, Rory McIlroy van Noord-Ierland, is vier houe agter Poston op vier onder 67 na ʼn arend op die vyfde putjie.
# Motorsport: Die Britse Formule Een-renjaer Lewis Hamilton sê hy wil sy jarelange teenstander Fernando Alonso nadoen en nog jaag tot diep in sy 40’s. Die Spanjaard het pas ‘n ooreenkoms onderteken met Aston Martin tot minstens 2026, wanneer hy 45 sal wees. Die 39-jarige Hamilton sluit volgende jaar aan by Ferrari met ‘n aanvanklike kontrak van twee-jaar. Hy sê Alonso, wat hy beskou as een van die beste renjaers, het gewys wat moontlik is en wat die liggaam kan doen as dit opgepas word.
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, kom in die kwarteindronde van die Stuttgart Ope teen die Brit Emma Raducanu te staan. Swiatek het die Belg Elise Mertens 6-3, 6-4 geklop om die kwarteindronde die derde agtereenvolgende jaar te haal. Raducanu het die Tsjeggiese tiener Linda Noskova 6-stroop, 7-5 verslaan. Jasmine Paolini van Italië het die sewende gekeurde Ons Jabeur van Tunisië in skoon stelle afgeransel. Raducanu, wat verlede seisoen deur beserings geteister is, sê sy is bly sy kan weer goed speel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….