Nuus 13:00
BULLETIN 4 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema glo jong kiesers sal die EFF steun
# Spanje se minister van Vervoer bedank ná twee dodelike treinongelukke
# En sokker: Die Asiatiese Beker word tot Desember 2027 uitgestel ná aanvalle in Saoedi-Arabië
# Die EFF-leier, Julius Malema, verwag sterk steun van jong kiesers in vandag se munisipale verkiesing. Hy het gepraat nadat hy in Seshego in Limpopo gestem het. Malema skryf sy vertroue toe aan die party se werk onder jongmense en sy steun aan studente. Die EFF is gekant daarteen dat studente weens studieskuld op swartlyste geplaas of hul kwalifikasies teruggehou word. Malema sê hulle fokus ook op jeugwerkloosheid en ekonomiese struikelblokke vir jongmense:
Intussen moedig die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, studente aan om hul demokratiese reg uit te oefen deur te stem. Hy sê besluite wat munisipaliteite neem het ‘n regstreekse uitwerking op gemeenskappe. Bykans 29,2-miljoen geregistreerde kiesers sal na verwagting vandag aan die verkiesing deelneem. Die minister se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê jongmense moet die betekenis begryp van ‘n reg wat deur geslagte se stryd en opoffering verseker is:
# Die vakverbond SAFTU vra ‘n alternatiewe ekonomiese program wat fokus op dringende nywerheids- en streeks-ontwikkeling, en werkskepping. Hy sê Suid-Afrika moet sy vervaardigingsvermoë herbou, plaaslike voorsieningskettings versterk en afhanklikheid van klaar-vervaardigde ingevoerde produkte verminder. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê hulle vra ook die uitbreiding van die land se handelsbetrekkinge deur wedersyds voordelige vennootskappe met Afrikalande, BRICS-lede, die Globale Suide en ander internasionale vennote:
Nuus uit die buiteland:
# Spanje se minister van Vervoer, Óscar Puente, het bedank en sê hy kan nie in sy amp aanbly ná twee ernstige treinongelukke binne minder as ‘n jaar nie. Nege-en-sestig mense is verlede week dood in ‘n botsing tussen twee sneltreine buite die dorp Urda, in een van Europa se dodelikste treinongelukke hierdie eeu. In Januarie het ‘n treinongeluk in die suidelike streek Andalusië 46 lewens geëis. Puente het ook onttrek aan die komende algemene verkiesing, maar sê die regering sal onverpoosd werk om openbare vertroue in sneltreindienste te herstel.
Sokker: Volgende jaar se Asiatiese Beker is met meer as 11 maande uitgestel weens dodelike aanvalle in die gasheerland, Saoedi-Arabië. Die toernooi sou oorspronklik op 7 Januarie begin, maar sal nou eers op 23 Desember volgende jaar afskop. Die Asiatiese beheerliggaam, die AFC, sê die besluit is geneem in die lig van die huidige buitengewone omstandighede in die Midde-Ooste, insluitend aansienlike logistieke uitdagings en ontwrigtings in reisverkeer. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, moet nog die nuwe datums goedkeur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-246-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-45-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….