Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die veteraan van 144 toetse, Beauden Barrett, is die ster-speler in die All Back-groep vir môre se wedstryd teen die Stormers in Kaapstad. Hy word ondersteun deur die buitesenter Anton Lienert-Brown, wat 90 toetse gespeel het, die linkervleuel Rieko Ioane, met 88 toetse, en die slot Patrick Tuipulotu, met 57, wat ook die span sal aanvoer. Die vleuel Rieko Ioane is ook weer ingesluit nadat hy van Leinster teruggekeer het. Die stut Siale Lauaki en die veelsydige agterspeler Josh Jacomb is die twee nuwelinge.
Die Springbokke se truie vir die toetsreeks teen die All Blacks bevat intussen die lirieke van Suid-Afrika se nasionale volkslied in die vorm van die landsvlag. Die woorde in isiXhosa, isiZulu, SeSotho, Afrikaans en Engels sal op die spelers se bors gedra word. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, het verduidelik dit is die samevloeiing van Suid-Afrika se uiteenlopende stemme, geskiedenis en gemeenskaps-verteenwoordiging. Die twee lande speel op Ellispark, die Kaapstad-stadion, die FNB-stadion in Johannesburg en in Baltimore in Amerika.
# Krieket: Nog ‘n groot naam het hom verbind tot volgende jaar se vyfde SA20. Die kaptein van Australië se T20-span, Mitchell Marsh, sal die eerste keer deelneem nadat hy by die driemalige kampioen, Sunrisers Eastern Cape, aangesluit het. Hy sal na verwagting ‘n aanvangs-vennootskap met die Suid-Afrikaner Quinton de Kock vorm. Durban’s Super Giants en Paarl Royals se groepe van 19 spelers elk is reeds voltallig, terwyl Sunrisers, Joburg Super Kings, M-I Cape Town en Pretoria Capitals nog spelers sal byvoeg tydens die spelersveiling op 7 Oktober.
# Gholf: LIV Gholf het ‘n ooreenkoms met ‘n nuwe onbekende belegger bereik na maande se onderhandelings. Die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds het in April aangekondig hy gaan sy finansiering van die wegbreekliga aan die einde van die jaar beëindig. Die nuwe ooreenkoms sal na verwagting volgende maand afgehandel wees. LIV Gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neill, sê spelers sal nou ook ‘n meerderheids-aandelebelang in die liga besit:
# En sokker: FIFA sê Gianni Infantino sal die president bly en die bestuursraad het sy ondersteuning vir sy leierskap herbevestig. Dit volg nadat die wêreldbeheerliggaam ‘n noodvergadering in Rabat, Marokko gehou het na toenemende kritiek teen Infantino se voorstel wat nou van die tafel af is. Hy wou aandele in FIFA-kompetisies aan privaat beleggers verkoop. Infantino en die sekretaris-generaal, Mattias Grafstrom, het om verskoning gevra vir hul foute. FIFA sê met die voorstel wat nou onttrek is, sal hy nie langer aanvalle op sy integriteit, goeie bestuur en werkwyse duld nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….