Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die losvoorspeler Hacjivah Dayimani is beskikbaar vir die Stormers vir Saterdag se Verenigde Rugby-kampioenskapswedstryd teen Scarlets in Kaapstad. Hy het verlede naweek se oorwinning oor Bristol Bears misgeloop weens harsingskudding. Hulpafrigter Dawie Snyman sê dis steeds onseker of kaptein Ruhan Nel sal speel, aangesien hy met ‘n ligte kuitbesering sukkel, alhoewel sy onttrekking teen Bristol grootliks ‘n voorsorgmaatreël was. Die Stormers oorweeg ook of hulle sommige Springbokke moet laat rus voor die internasionale gleuf in November. Die span sal na verwagting later vandag aangekondig word.
Die Stormers het intussen die haker JJ Kotzé se voorgestelde skorsing van drie weke verwerp. Hy het ‘n rooikaart ontvang in verlede naweek se Kampioenebeker-wedstryd teen Bristol Bears in Kaapstad vir ‘n gevaarlike duikslag op die skrumskakel Kieran Marmion terwyl hy sy doellyn verdedig het. Die Stormers het 49-12 gewen. ‘n Vuilspel-hersieningskomitee het weer na die voorval gekyk en die skorsing aanbeveel. Die saak sal nou deur ‘n volle regspaneel oorweeg word, met ‘n virtuele verhoor later vandag.
# Sokker: Suid-Afrika se vrouespan gaan van einde van November in Marokko deelneem aan die eerste kwalifiserende ronde vir die Wêreldbekertoernooi. Twee van die ses deelnemende spanne sal deurdring na die finale kwalifiserende uitspeelwedstryde in Februarie. Elke span sal drie wedstryde speel. Banyana Banyana kom die 28ste van volgende maand in Rabat teen Taiwan te staan, op 1 Desember teen Ecuador en op 5 Desember teen Oesbekistan. Die ander twee spanne in die toernooi is Ghana en Papoea-Nieu-Guinee.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het die program bekendgemaak vir volgende jaar se Onder-19 T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue in Bangladesj en Nepal. Sestien spanne sal deelneem, en 41 wedstryde sal op vier stadions gespeel word. Die toernooi begin op 21 Januarie met agt spanne in aksie. Suid-Afrika is in Groep B saam met Nieu-Seeland, Pakistan en Samoa, en hul eerste wedstryd is die 24ste teen Samoa. Die eindstryd vind op 6 Februarie in Bangladesj plaas.
# En tennis: Die wêreld-nommer-nege, Iga Swiatek van Pole, het haar seisoen vroeg beëindig nadat sy weens ‘n dybesering aan die Ningbo-ope in China onttrek het. Dit beteken sy het die eerste keer sedert 2019 nie vir die WTA-jaareindtoernooi gekwalifiseer nie. Sy het ook die seisoen die eerste keer sedert 2021 sonder ‘n Grand Slam-titel afgesluit. Swiatek hoop om reg te wees wanneer die nuwe seisoen in Januarie met die Australiese Ope begin, waar sy die kans sal kry om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….