Nuus 13:00
BULLETIN 21 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Patriotic Alliance stel ‘n media-verbod in voor die plaaslike regeringsverkiesing
# Stygende mediese fondskoste plaas dekking buite bereik van werkende Suid-Afrikaners
# En Nigerië bevestig die eerste Ebola-geval in die hoofstad, Abuja
# Die Patriotic Alliance, onder leiding van minister Gayton McKenzie, het ‘n algehele verbod op media-onderhoude ingestel voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum veroordeel die besluit en vra dat dit teruggetrek word. Kritici sê die beperking van mediatoegang ondermyn deursigtigheid en aanspreeklikheid tydens die verkiesingsveldtog. McKenzie het in Westbury, Johannesburg, nuusorganisasies beskuldig van bevooroordeelde en negatiewe verslaggewing wat politieke teenstanders bevoordeel:
# Kaelo Health Insurance sê Suid-Afrika se mark vir gesondheidsversekering groei omdat stygende mediese fondsbydraes vir privaat gesondheidsorg onbekostigbaar raak vir werkende mense. Die grootste mediese fondse verhoog hul tariewe volgende jaar met tussen sewe- en nege-persent, meer as dubbel die riglyne van die Raad vir Mediese Skemas. Jordan Bortz van Kaelo sê werkers sonder gesondheidsorg-dekking kry dikwels nie behandeling vir alledaagse siektes en chroniese toestande nie, en verloor werksure as hul toustaan vir sorg:
# Die Waterinstituut van Suider-Afrika waarsku oor die verhoogde gevare vir watersekerheid namate Suid-Afrika die somer-reënseisoen betree. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel van nou tot Desember minder reën en hoër temperature oor die grootste deel van die land. Die instituut se uitvoerende hoof, Lester Goldman, sê kundige werknemers word benodig om klimaat-vooruitskattings in doeltreffende besluite oor waterbestuur te omskep. Hy vra munisipaliteite en waterdiensteverskaffers om hul beskikbare hulpbronne te beoordeel, kwesbare infrastruktuur te identifiseer en noodplanne te hersien om voor te berei op moontlike tekorte.
Nuus uit die buiteland:
# Nigerië het sy eerste Ebola-geval aangemeld in ‘n vrou wat van Uganda na Abuja gereis het. Die Demokratiese Republiek die Kongo beleef sy dodelikste Ebola-uitbreking in die geskiedenis weens die skaars Bundibugyo-stam. Minstens vier-duisend-600 mense is dood en meer as nege-duisend-500 gevalle aangeteken. Kenia het vroeër die maand sy eerste geval aangemeld en sedertdien is nog nege gevalle bevestig. Nigerië se minister van Gesondheid, Muhammad Ali Pate, sê die vrou is in afsondering:
# Rugby: Rhys Barratt, Aneurin Owen en Che Hope is die nuwelinge in Wallis se groep vir volgende maand se tuiswedstryde in die Nasieskampioenskap. Afrigter Steve Tandy het die ervare losvoorspelers Taulupe Faletau en Tommy Reffell, asook die senter Macs Page, uit die groep gelaat. In hul vorige wedstryde in die kompetisie het Wallis teen Suid-Afrika en Argentinië verloor, maar vir Fidji geklop. Hulle speel op 7 November teen Japan, gevolg deur toetse teen Nieu-Seeland en Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-402-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….