Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbok-vroue het in Spanje aangekom voor hulle eerste toetswedstryd van die jaar. Hulle sal gemotiveerd wees na waardevolle lesse tydens hulle oefeninge met Skotland en Wallis. Die Bokke speel Saterdag ‘n toets teen Spanje in Valladolid en ‘n week later pak hulle die Verenigde State op Twickenham in Londen. Die wedstryde sal nog ‘n belangrike stap wees in die span se voorbereiding om te kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland.
# Tennis: Die groot name kom in Miami byeen na die voltooiing van die Indian Wells-toernooi, die eerste van die sogenaamde Sonskyn-dubbel. Onder hulle is die kampioene in Indian Wells, Carlos Alcaraz van Spanje en Iga Swiatek van Pole. Alcaraz is tans die wêreldnommer-twee, en die topgekeurde speler vir Miami nadat Novak Djokovic van Serwië onttrek het. Onder die vroue is daar groot belangstelling in Simona Halep van Roemenië, wat in haar eerste toernooi speel sedert haar opkikkerskorsing verminder is.
# Sokker: Nottingham Forest moes vier punte afstaan omdat hy die Engelse Premierliga se reëls vir winsgewendheid en volhoubaarheid oortree het. Die klub het erken hy het in 2022/23 650-miljoen rand méér wins gemaak as wat die reëls bepaal. Die straf plaas Forest nou in die 18de plek en dus in die relegasie-sone, een punt minder as Luton wat na die 17de plek opskuif, met nog nege wedstryde oor. Forest, wat binne sewe dae teen die straf kan appelleer, sê dit is onaanvaarbaar omdat hy deurentyd goeie samewerking gegee het.
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-span sê hy is besig om oplossings te vind vir basiese probleme met sy W15-motor aan die vooraand van die naweek se Australiese Grand Prix. Mercedes het in vanjaar se eerste twee wedrenne slegs 26 punte ingesamel en is vierde in die vervaardigers-afdeling. Die motor kon nie deur die rondes sy spoed volhou nie. ‘n Direkteur van Mercedes se ingenieurs-afdeling, Andrew Shovlin, sê hulle het beduidende werk gedoen rakende aërodinamika en dit sal hopelik met die vertoning help.
# En, Statebondspele: Maleisië se regering sal dié week besluit of hy in 2026 ‘n beperkte Spele sal aanbied, terwyl die Statebondspele-federasie sukkel om ‘n nuwe gasheer te kry. Die Australiese staat Victoria het verlede jaar onttrek weens stygende koste. Hy het later ingestem om ‘n skikking van 4,5-miljard-rand te betaal. Die federasie het Maleisië 2,4-miljard-rand aangebied om gasheer te wees van die geleentheid wat hy laas in 1998 aangebied het. Kostebesparingsmaatreëls sluit kleiner openings- en afsluitingseremonies in, standaard hotelle en verblyf vir atlete, en net tien sportsoorte in plaas van 15.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….