Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas het Australië met 32 lopies verslaan in die tweede eendagwedstryd op die Wanderers in Johannesburg om die reeks te beklink met een wedstryd oor. Kaptein Temba Bavuma en David Miller het onderskeidelik 103 en 142 behaal en 156 bygevoeg om die vierde paaltjie, wat Suid-Afrika se telling tot 365 vir nege geneem het. Travis Head en Mitchell Marsh se aanvangsvennootskap van 130 lopies was daarna nie genoeg nie en Australië is vir 333 uitgeboul. Die reeks eindig Woensdag in Potchefstroom, waarna drie toetse volg.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus weier om verskonings te maak vir hul nederlaag van 42-38 teen die Wallabies in Perth. Die Bokke was ná 63 minute 42-17 agter voor ‘n laat herlewing hulle binne tref-afstand gebring het. Dit was egter te laat al het Australië in die laaste elf minute vier spelers weens geelkaarte verloor. Erasmus, wat 13 veranderinge aangebring het, sê hulle het hulself in ‘n onmoontlike posisie geplaas:
# Sokker: Suid-Afrika se Onder 20-span het hulle COSAFA Onder 20-kampioenskapstitel vir mans behou danksy ‘n welverdiende oorwinning van 2-1 oor die gasheer, Mosambiek. Amajita se deurbraak was in die 27ste minuut toe Oarabile Booysen die eerste doel aangeteken het. Mosambiek het die telling egter twee minute later gelykop gemaak met Martinho Começar se doel. In die tweede helfte het Suid-Afrika ʼn strafdoel gewen en die toernooi se punte-koning, Steven Mendes, het die oorwinning beklink. Amajita het ook vir die Onder 20-Afrikabeker-toernooi gekwalifiseer.
# Swem: Verskeie swemmers het B-kwalifiseringstye behaal op die Suid-Afrikaanse kortbadkampioenskap en is daarom steeds verkiesbaar vir die Wêreld-kortbadkampioenskap in Beijing, China, in Desember. Drie mans het B-kwalifiseringstye in die 100-meter-vryslag behaal, met Guy Brooks wat die titel in 47,59 sekondes verower het, voor Armand Coetzee en Kaydn Naidoo. Matthew Caldwell het die mans een-duisend-500-meter-vryslag in ‘n B-kwalifiseringstyd van 15-minute-13,33 sekondes gewen, terwyl Georgia Nel ook in aanmerking kom vir kwalifisering in die 100-meter-individuele wisselslag.
# En tennis: Span Europa het sy sesde Laverbeker-titel ingepalm met ‘n sege van 13-5 oor Span Wêreld in die O2-arena in Londen. Flavio Cobolli en Jakub Mensik het Europa gister op die voorvoet geplaas met ‘n oorwinning oor Alex de Minaur en Taylor Fritz voor die tweemalige Grand Slam-kampioen, Alexander Zverev, die oorwinning beklink het deur Learner Tien te klop. Dit is Yannick Noah se eerste Laverbeker-titel as kaptein nadat hulle verlede jaar in San Francisco teen Andre Agassi se Span Wêreld verloor het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….