Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê hulle is nie spyt oor hul benadering nie al het hulle met 434 lopies teen Indië verloor. Die besoekers is laat op die vierde dag van die derde toets in Rajkot vir 122 uitgeboul, nadat hulle ‘n teiken van 557 gestel is. Ravindra Jadeja is as speler van die wedstryd aangewys vir sy sewe paaltjies in die toets en 112 lopies in die eerste beurt. Indië loop twee-een voor in die reeks van vyf wedstryde. Stokes sê ten spyte van kritiek gaan hulle niks verander nie:
# Rugby: Engeland se skrumskakel, Alex Mitchell, is weens ‘n kniebesering nie beskikbaar vir Saterdag se Sesnasies-wedstryd teen Skotland nie. Die 26-jarige speler is in Augustus aanvanklik as nood-plaasvervanger vir die Wêreldbeker aangetree nadat Jack van Poortvliet beseer is. Hy het in agt van Engeland se laaste tien wedstryde vir die beginspan uitgedraf. Mitchell sal waarskynlik deur Danny Care of Ben Spencer vervang word. Engeland is met agt punte tweede op die Sesnasies-punteleer ná die verdedigende kampioene van Ierland.
# Tennis: Die heersende Australiese Ope-kampioen, Jannik Sinner, het sy tweede toertitel van die seisoen opgeraap toe hy die Rotterdam Ope gewen het. Die Italianer het Alex de Minaur van Australië met 7-5 en 6-4 verslaan om die titel vir die eerste keer te wen. Die 22-jarige speler klim nou tot nommer drie op die ATP-ranglys, wat die hoogste van sy loopbaan is. Sinner sê hy is trots op sy spelpeil in die toernooi:
# Sokker: Manchester United het Luton Town met twee-een geklop om in die wedloop te bly en onder die Premierliga se top-vier te eindig. Dit beteken hulle kwalifiseer vir volgende seisoen se Kampioeneliga. Twee doele deur doelskieter Rasmus Hojlund, het die kragmeting vir die Rooi Duiwels op Kenilworth Road beklink. Met hierdie sege het United die gaping tussen hom en vyfde-geplaaste Tottenham tot drie punte verklein en hulle is nou vyf punte agter Aston Villa wat vierde is. Die bestuurder, Erik ten Hag, sê hulle moes die wedstryd beter beheer het:
# En, motorsport: Formule Een het Red Bull versoek om die ondersoek na die spanhoof, Christian Horner, so gou moontlik af te handel. Horner word ondersoek nadat ‘n kollega hom beskuldig het van onvanpaste gedrag. Die 50-jarige het die bewerings ten sterkste ontken. F1 sê hy hoop die saak sal so gou moontlik uitgeklaar word, deur middel van ’n regverdige en deeglike proses. Die voorseisoen-toetse begin Woensdag, vóór die eerste wedren van die jaar op 2 Maart in Bahrein.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….