Nuus 13:00
BULLETIN 5 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Madlanga waarsku grondwetlike regte is nog nie vir almal ‘n werklikheid nie
# Wes-Kaapse taxiverenigings onderteken ‘n vredes- en skietstilstandooreenkoms
# En, die VN stem om nuwe wêreldkaart te aanvaar wat Afrika se ware grootte weerspieël
# Afgetrede Regter Mbuyiseli Madlanga sê miljoene Suid-Afrikaners moet die regte en vryhede wat deur die Grondwet gewaarborg word, nog ten volle ervaar. Madlanga het tydens die Rabinowitz-lesing aan die Universiteit van Kaapstad verwys na volgehoue ongelykheid, kommer oor geregtigheid en verantwoordbaarheid, en uitdagings binne staatsinstellings. Hy het beklemtoon dat dringende optrede nodig is om grondwetlike regte ‘n werklikheid in burgers se daaglikse lewens te maak:
# Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die MK-party se oproep verwerp om die RISE Mzansi-parlementslid, Makashule Gana, as voorsitter van die Parlement se Artikel 89-ampsklagkomitee te verwyder. Die MK se parlementêre leier, John Hlophe, voer aan Gana is nie onpartydig nie, omdat sy party deel is van die Regering van Nasionale Eenheid. Gana is met 19 stemme teenoor 12 verkies, na benoemings deur die ANC en die DA. Didiza sê sy het nie die mag om die komitee se stem tersyde te stel nie. Gana bly as voorsitter aan terwyl die Phala Phala-ondersoek voortgaan.
# Die DA se burgemeesterskandidaat vir Emfuleni, Kingsol Chabalala, sê inwoners het te lank gely onder mislukte munisipale dienste. Chabalala sê die munisipaliteit beleef steeds langdurige kragonderbrekings, wateronderbrekings, slaggate in paaie en onwettige storting. Hy het belowe om Emfuleni vir alle inwoners te laat werk, met sy veldtog wat fokus op die herstel van basiese dienste, die verbetering van infrastruktuur en die versterking van verantwoordbare plaaslike regering:
# Die Kongres van Demokratiese Taxiverenigings en die Kaapse Geamalgameerde Taxivereniging het ‘n vredes- en skietstilstandooreenkoms onderteken om geskille tussen die twee verenigings te beëindig. Die ooreenkoms volg na regeringsgeleide bemiddeling, met albei partye wat onderneem om toekomstige geskille deur gevestigde kanale op te los. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad in die Wes-Kaap het die ooreenkoms verwelkom en noem dit ‘n mylpaaloomblik vir die provinsie se taxibedryf. Die organisasies het ook ooreengekom om die veiligheid van pendelaars en taxi-operateurs te prioritiseer en te verhoed dat konflik toeneem.
En nuus uit die buiteland:
# Die VN se Algemene Vergadering het gestem om die tradisionele wêreldkaart te vervang met een wat die grootte van Afrika meer akkuraat weerspieël. Die resolusie, gesteun deur lede van die Afrika-Unie, is aanvaar met die steun van 164 nasies, insluitend Frankryk en Brittanje. Die VSA was die enigste nasie wat daarteen gestem het – met ses wat buite stemming gebly het. Die VN-stemming is nie-bindend, maar sal veranderinge meebring aan die kaarte wat deur instellings regoor die wêreld gebruik word. Op die vorige kaart was Afrika so groot soos Groenland, maar is in werklikheid 14 keer groter.
# En gholf: Christiaan Bezuidenhout is die enigste Suid-Afrikaner wat later die maand gaan deelneem aan die Presidentsbeker in Illinois, Amerika. Die toernooi word beslis tussen die Internasionale Span en Amerika op die Medinah-baan vanaf die 22ste. Internasionaal word aangevoer deur die Australiër Geoff Ogilvy en sluit spelers in soos Ryan Fox van Nieu-Seeland, Tom Kim van Suid-Korea en die Kanadese Nick Taylor en Corey Connors. Amerika word aangevoer deur Brandt Snedeker, en sluit die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, in asook Collin Morikawa en Xander Schauffele.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….