Nuus 11:00
BULLETIN 5 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Speaker verwerp die MK-party se pleidooi om Gana as voorsitter van die Artikel 89-ampsklagkomitee te verwyder
# Uitspraak is voorbehou in die Kirsten Kluyts moordverhoor
# En tennis, Alcaraz en Sabalenka is albei deur na die laaste 16 by die Amerikaanse Ope
# Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die MK-party se oproep verwerp om die RISE Mzansi-parlementslid, Makashule Gana, as voorsitter van die Parlement se Artikel 89-ampsklagkomitee te verwyder. Die MK se parlementêre leier, John Hlophe, voer aan Gana is nie onpartydig nie, omdat sy party deel is van die Regering van Nasionale Eenheid. Gana is met 19 stemme teenoor 12 verkies, na benoemings deur die ANC en die DA. Didiza sê sy het nie die mag om die komitee se stem tersyde te stel nie. Gana bly as voorsitter aan terwyl die Phala Phala-ondersoek voortgaan.
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het uitspraak voorbehou in die moordverhoor van Bafana Mahungela, wat daarvan beskuldig word dat hy die Sandton-onderwyseres Kirsten Kluyts vermoor het. Kluyts is in Oktober 2023 vermoor terwyl sy aan ‘n atletiekbyeenkoms deelgeneem het. Die staat beweer sy is met ‘n stomp voorwerp aangeval en verwurg. Mahungela staan tereg op aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord en poging tot verkragting. NVG-woordvoerder Magaboke Mohlatlole sê die hof het die saak tot 11 September uitgestel:
# Transnet sê die herstel van die Kaapse Hooflyn-spoorverbinding is voltooi na stormskade in Mei. Swaar reënval, sterk wind en oorstromings op 11 en 12 Mei het tot omvattende skade gelei met dele van die lyn wat vir meer as twee maande gesluit was. Die vragkorridor verbind Kaapstad met Suid-Afrika se binnelandse spoorwegnetwerk, vir die vervoer van houers, landbouprodukte, nywerheidsgoedere en minerale. Dieseltreine het weer in Julie begin loop, terwyl volle elektriese treindienste in Augustus hervat is.
# Die polisie in die Noord-Kaap sê seksuele oortredings het tussen April en Junie met 32,5-persent toegeneem, terwyl verkragtingsake wat met 43,4-persent gestyg het. Provinsiale polisiekommissaris Koliswa Otola sê baie slagoffers ken hul beweerde oortreders, by sommige verkragtingsake is kinders van dieselfde ouderdom betrokke, terwyl ander ouer oortreders betrek. Sy doen ‘n beroep op gemeenskappe om nou saam met die polisie te werk om seksuele oortredings te voorkom en te verseker dat oortreders vervolg word:
# Amerikaanse onderhandelaars Steve Witkoff en Jared Kushner besoek Rusland en Oekraïne dié naweek in ‘n klaarblyklike poging die einde van die oorlog te versnel. President Volodymyr Zelensky van Oekraïne het bevestig dat hy môre die gesante sal ontmoet, nadat hulle vandag Moskou besoek om gesprekke met die Russiese president Vladimir Putin te voer. Witkoff en Kushner lei die Amerikaanse president Donald Trump se pogings om ‘n vredesooreenkoms te bereik, maar daar is steeds aansienlike verskille tussen die twee strydende kante.
# En laastens, Tennis: Die verdedigende enkelspelkampioene Carlos Alcaraz en Aryna Sabalenka is gister gemaklik deur na die laaste 16 van die Amerikaanse Ope, terwyl tennis-ikone Serena en Venus Williams ‘n nederlaag gely het in hul langverwagte terugkeer na Grand Slam-dubbelspel. Alcaraz het Wu Yibing van China in drie stelle geklop om sy plek in die vierde ronde te verseker, terwyl Sabalenka in twee stelle teen Kamilla Rakhimova gewen het. Alcaraz kom nou teen die 20ste gekeurde Amerikaner Tommy Paul te staan vir ‘n plek in die kwarteindronde, nadat Paul die 15de gekeurde Alexander Bublik in vyf stelle geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….