Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met sokker: Die regering het Bafana Bafana geloof vir hul geesdriftige vertoning teen Mexiko in hul Wêreldbeker-openingswedstryd. Suid-Afrika het met 2-0 teen die toernooi se medegashere verloor, en met nege man geëindig na Sphephelo Sithole en Themba Zwane met rooi kaarte afgestuur is. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, sê dit was nie uitslag waarop die land gehoop het nie, maar die span het die land met ‘n gevoel van trots op die wêreld se grootste verhoog verteenwoordig:
# Die Bulle se losskakel Handré Pollard sê die span se karakter en veerkragtigheid sal hul grootste bate wees wanneer hulle volgende Vrydag in Dublin teen Leinster meeding vir hul eerste Verenigde Rugbykampioenskaps-titel. Die Bulle speel in hul vierde eindstryd in vyf seisoene van die kompetisie, terwyl Leinster mik na ‘n tweede agtereenvolgende titel. Pollard glo die eindstryd sal bepaal word deur die span wat hul emosies die beste kan beheer. Hy voeg by die span het hard gewerk om die eindstryd te haal, en hoop nie die groot geleentheid is te oorweldigend nie.
# Krieket: Die besturende direkteur van Engeland en Wallis se Krieketraad, Rob Key, sê hulle oorweeg om ʼn totale alkoholverbod vir mans-spelers in te stel terwyl hulle vir die nasionale span speel. Dit volg nadat Engeland se kaptein, Ben Stokes en bouler Gus Atkinson ondersoek word na ʼn voorval Maandag in die vroeë oggendure by ʼn nagklub in Chelsea. Die twee is nie gekies vir volgende week se tweede toets teen Nieu-Seeland nie. Key sê hy gaan nie oorhaastig besluit oor Stokes se toekoms as kaptein nie:
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een Serena Williams sal nou fokus op volgende week se Berlynse Ope in Duitsland nadat haar deelname aan die Queens-klubtoernooi in Londen kortgeknip is. Die 44-jarige Amerikaner en haar dubbelspelmaat, Victoria Mboko, is gedwing om aan die dubbelspel-kwarteindstryd te onttrek nadat Mboko tydens ‘n enkelspelwedstryd beseer is. Hulle het vroeër Erin Routliffe van Nieu-Seeland en die Amerikaner Nicole Melichar-Martinez in die rondte van 16 geklop. Williams hoop op insluiting deur ‘n promotorskeuse om aan Wimbledon deel te neem.
En laastens motorsport: George Russell van Mercedes sê hy hoop sy onlangse terugslae die naweek in die Catalunya Grand Prix in Barcelona omkeer. Hy het weens ‘n tegniese probleem geen punte in Kanada aangeteken nie en ook nie in Monaco nie ná ‘n laat deurry-straf. Russell het ‘n agterstand van 68 punte op die bestuurderskampioenskap-punteleer teenoor sy spanmaat Kimi Antonelli. Russell hoop op ‘n normale wedren in Barcelona:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….