Nuus 12:00
BULLETIN 12 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer sê die Madlanga-kommissie en ondersoeke na staatskaping het menslike tekortkominge blootgelê
# ‘n Forum eis volskaalse intelligensie-gedrewe ingrypings by misdaadnetwerke in informele woongebiede
# En sokker: Die regering sê Bafana Bafana kan sterker terugkom ná hul Wêreldbeker-nederlaag teen Mexiko
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, sê die skokkende onthullings van sistemiese wangedrag wat die Staatskaping- en Madlanga-kommissies blootgelê het, is tekortkominge in menslike gedrag, eerder as ‘n gebrek aan vaardighede of ervaring. Gcaleka het dié opmerkings gemaak tydens ‘n winterskoolbyeenkoms vir godsdiensleiers aan die Universiteit Stellenbosch in die Wes-Kaap. Die Openbare Beskermer sê bewyse wat aan die kommissies gelewer is, toon diegene wat oortredings gepleeg het, was dikwels goed opgelei en ervare. Sy voeg by die land moet verseker die onderwysstelsel plaas meer klem op etiek en karaktervorming.
# Die Forum for South Africa eis ‘n volskaalse intelligensie-gedrewe ingryping by georganiseerde misdaadnetwerke wat vanuit informele woongebiede deur die land funksioneer. Dit volg op die voorval van massaskietery Dinsdag in die informele woongebied Jumpers in Cleveland, Johannesburg, waar 12 mense dood is. Die leier van FOSA, Tebogo Mashilompane, sê die feit dat meer as tien gewapende verdagtes in staat was om gekoördineerde moorde te pleeg en sonder onmiddellike inhegtenisneming te ontsnap, wys op ernstige gapings in intelligensie, sigbaarheid van polisie en misdaadvoorkoming:
# Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom het vier nuwe digitale dienste bekend gestel as deel van sy vernuwingsprogram. Dit sluit onder meer ‘n platform vir wysigings aan koöperasie-direkteure in, ‘n saakbestuurstelsel, ‘n kliëntenavrae-bestuurstelsel en ‘n aanlyn geselsdiens. Die kommissie sê die nuwe tegnologie vervang papiergebaseerde prosesse, verhoog doeltreffendheid, verbeter voldoening en versterk kliëntediens. Amptenare sê die digitale platforms sal omkeertye verbeter, aanspreeklikheid verhoog en meer toeganklike en betroubare dienste aan ondernemings en die publiek verskaf.
# Sokker: Die regering het Bafana Bafana geloof vir hul geesdriftige vertoning teen Mexiko in hul Wêreldbeker-openingswedstryd. Suid-Afrika het met 2-0 teen die toernooi se medegashere verloor, en met nege man klaargemaak nadat Sphephelo Sithole en Themba Zwane met rooi kaarte afgestuur is. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, sê dit was nie uitslag waarop die land gehoop het nie, maar die span het die land met ‘n gevoel van trots op die wêreld se grootste verhoog verteenwoordig:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-413-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-212-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die Britse minister van Gewapende magte, Al Carns, het bedank slegs ure ná die bedanking van die minister van Verdediging, John Healey, weens ‘n geskil oor militêre befondsing. Hy is die sewende minister in eerste minister Keir Starmer se regering wat in die afgelope maand bedank het. Carns voer in sy bedankingsbrief aan die verdediging-beleggingsplan skiet ver te kort van wat vereis word vir die bedreiging wat die wêreld moet trotseer, en is nie voldoende befonds nie. Hy voeg by ‘n sterk land is nie slegs een met bekwame gewapende magte nie, maar ook een waar werkende mense ekonomies veilig voel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….