Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Bulle keer vandag terug huis toe nadat hulle Glasgow Warriors in Skotland verslaan het in die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Hulle gaan eerder in Pretoria herstel voor hulle weer vertrek vir volgende naweek se eindstryd teen Leinster in Ierland. Dit sal ‘n herhaling van verlede seisoen se eindstryd wees toe die tuisspan 32-7 gewen het. Die wedstryd sal weer op Croke-park in Dublin gespeel word. Die Bulle hoop steeds op ‘n eerste titel nadat hulle die afgelope vyf jaar vier keer die eindstryd gehaal het.
Nog rugbynuus: Die losvoorspeler Phepsi Buthelezi en die stut Carlu Sadie is opgeroep vir die Springbokke se oefengroep in Johannesburg. Die twee sal deur die Stormers-spelers vergesel word na hul VRK-halfeindnederlaag teen Leinster. Buthelezi, wat vir die Haaie speel en sy toetsbuiging in 2024 teen Portugal gemaak het, het gister vir diens aangemeld, terwyl Sadie, wat vir die Europese kampioen Bordeaux Bègles speel, môre by die kamp aansluit. Die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, is vol vertroue dat hulle maklik in die groep sal inpas.
# Krieket: Die Proteas-vrouespan speel vandag in Loughborough, England, teen Nieu-Seeland in hul laaste opwarmingswedstryd vir die T20-Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika se eerste wedstryd van die toernooi is Saterdag teen Australië in Manchester, na Vrydag se openingswedstryd tussen Engeland en Sri Lanka op Edgbaston in Birmingham. Die Proteas sal ook teen Pakistan, Indië en Nederland in ‘n sterk Groep Een te staan kom. Die groepwedstryde sal gevolg word deur twee halfeindstryde en die eindstryd op Lord’s in Londen op 5 Julie.
Nog krieketnuus: Engeland en Wallis se Krieketraad ondersoek ‘n oortreding van span-protokolle waarby kaptein Ben Stokes en die snelbouler Gus Atkinson betrokke was na die eerste toets teen Nieu-Seeland. Die twee was Maandag in die vroeë oggendure in ʼn nagklub toe ʼn voorval plaasgevind het. Die raad sê hy soek tans meer inligting. Engeland het ʼn middernag-klokreël vir spelers en personeel ingestel na hul reeks om die As in Australië toe spelers se gedrag van die veld af onder skoot gekom het.
# En laastens, sokker: Die Somaliese skeidsregter, Omar Artan, gaan die Wêreldbekertoernooi misloop nadat hy toegang tot Amerika geweier is. Die 34-jarige Artan moes na Turkye terugvlieg nadat hy op Miami se Internasionale Lughawe voorgekeer is. Amerika se Doeane- en Grensbeskerming sê Artan is met sy aankoms verbied om die land binne te gaan weens kommer oor ‘n agtergrond-ondersoek. FIFA sê hy is nie betrokke by gasheerlande se immigrasieprosesse nie en is in kennis gestel dat Artan se status tans onveranderd bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….