Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: ‘n Honderdtal deur Kane Williamson en ‘n vyftigtal deur Will Young was die dryfkrag in Nieu-Seeland se sege oor die Proteas in die tweede toets in Hamilton. Die Proteas het eerste gekolf en is in die eerste beurt vir 242 uitgehaal, waarna hulle die Swart Pette vir 211 uitgeboender het vir ‘n skrale voorsprong van 31 lopies. Die besoekers is in die tweede beurt vir 235 uitgehaal, wat aan die tuisspan ‘n teiken van 267 gestel het, wat hulle gehaal het met drie paaltjies plat. Dit was Nieu-Seeland se eerste oorwinning in ‘n toetsreeks oor Suid-Afrika.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap keer hierdie naweek terug ná ‘n onderbreking van drie weke en plaaslike ondersteuners sal met twee Suid-Afrikaanse derbies vermaak word. Die Haaie is môre die gasheer vir die Stormers op Kingspark in Durban, terwyl Ellispark die plek sal wees vir die Jukskei-derby tussen die Leeus en die Bulle. Die span van Pretoria het hul bure in die negende ronde van die kompetisie met 30-28 geklop op Loftus Versfeld, en die Bulle se medekaptein, Marcell Coetzee, sê hulle het ‘n groter fokus vir die herontmoeting:
Nog rugbynuus: Die Springbok-slot RG Snyman is vanaand in die opdrafspan van die Ierse span Munster in die Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Scarlets in Llanelli, Wallis, ná sy terugkeer van ‘n besering. Munster het bevestig hy het ten volle herstel van ‘n borsbesering wat hy tydens die Wêreldbeker-eindstryd in Oktober opgedoen het. Hy sou aanvanklik eers volgende maand terugkeer. Snyman verlaat Munster aan die einde van die seisoen om hom by Leinster aan te sluit en te herenig met die voormalige Bok-hoofafrigter, Jacques Nienaber, wat nou die span se senior afrigter is.
En ‘n laaste rugbystorie: Ierland en Wallis sal dalk in alternatiewe truie speel wanneer hulle mekaar in die toekoms aandurf. Dit is om dit vir kleurblinde toeskouers makliker te maak om na hul wedstryde te kyk. Die kombinasie van Wallis se tradisionele rooi en Ierland se groen truie hou besondere probleme in vir kleurblinde toeskouers, wat dan moeilik wedstryde kan volg. Wanneer Wêreldrugby se nuwe regulasies aan die einde van die jaar in werking tree, sal die onus op die besoekende span berus om ’n verandering te maak, indien nodig.
# Gholf: Tiger Woods sê hy is sonder enige pyn terwyl hy voorberei vir sy eerste PGA-toernooi van 2024 tydens die Genesis-uitnodigingstoernooi. Maar, die 15-malige Major-kampioen sê hy pas steeds aan ná die enkeloperasie wat hy in April 2023 ondergaan het. Woods se skedule was beperk sedert hy sy been beseer het in ‘n motorongeluk in 2021. Hy het hom in April 2023 aan die Meesters onttrek voordat hy sy terugkeer gemaak het by die Hero World-uitdaagtoernooi in Desember. Hy sê hy het steeds die ambisie om so lank as moontlik te speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….