Nuus 13:00
BULLETIN 2 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Godfrey Lebeya bevestig Malcolm X was ‘n informant van die Valke
# ‘n Verslag onthul waarskuwingstekens was sigbaar dae voor die dodelike gletser-instorting in Nepal
# En tennis: ‘n Maklike oorwinning vir Eala en Zverev klop Sonego in vyf stelle om die Amerikaanse Ope se tweede ronde te haal
# Die voormalige hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het aan die Madlanga-kommissie bevestig die sakeman Malcolm X was ‘n informant. Lebeya het aanvanklik geaarsel voor hy toegegee het. Die bevestiging volg na die klopjag op die sakeman Katiso “KT” Molefe se huis. Malcolm X het voorheen ontken dat hy ‘n polisie-informant was. Lebeya sê dit was nie sy bedoeling om hom in die openbaar as ‘n informant te onthul nie:
# Die kommissaris van die Inkomstediens, Johnstone Makhubu, sê die belastingowerheid het herstel ná die skade wat tydens staatskaping aangerig is. Hy het op die Finansiële Beraad gesê belasting-invorderings het die afgelope vyf agtereenvolgende jare ekonomiese groei oortref. Die diens het in die 2025/26-boekjaar ‘n rekordbedrag van 2,01-duisend-miljard-rand ingevorder, ‘n styging van 8,4-persent, vergeleke met nominale ekonomiese groei van 5,4-persent. Makhubu sê beter-bemande afdelings, data-ontleding en tegnologie verbeter belastingnakoming, maar waarsku Suid-Afrika se beperkte belastingbasis en die onwettige ekonomie bly groot uitdagings.
# Die Padvragvereniging sê die jongste verhoging in die brandstofprys beklemtoon weer hoe blootgestel die bedryf aan die wisselvalligheid van die wêreld se oliemarkte is. Albei grade petrol se prys het gestyg met een-rand-34-sent per liter, terwyl diesel tussen twee-rand-93-sent en drie-rand-15-sent per liter meer kos. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê terwyl brandstofpryse styg, moet vervoermaatskappye, vloot-operateurs en klante hulle staal teen die druk op bedryfskoste:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Verslag toon die gletser wat verlede week ingestort en die dodelike oorstromings in Nepal en Tibet veroorsaak het, het dae vooraf sigbare tekens van onbestendigheid getoon. Die dodetal is tans meer as een-duisend-100 en sowat vier-duisend mense word steeds vermis. Die verslag deur ‘n groep internasionale wetenskaplikes lui dat aanduidings voor die gebeure satellietbeelde insluit wat ‘n verandering in die gletser se oppervlak toon. Die wetenskaplikes sê waarskuwingstye van tien minute of meer en omvattende stelsels met die nodige hulpbronne kon ‘n aansienlike aantal lewens gespaar het.
# Tennis: Die belowende jong Filippyn Alexandra Eala het maklik deurgedring na die tweede ronde van die Amerikaanse Ope. Die 21-jarige het net drie potte afgestaan onderweg na haar oorwinning oor die plaaslike speler Mary Stoiana op die Louis Armstrong-stadion in New York. Eala het verlede maand tot 18de op die wêreldranglys opgeskiet nadat sy in die Washingtonse Ope haar eerste WTA-500-titel beklink het. In die mans-afdeling het die topgekeurde Duitser, Alexander Zverev, vyf stelle nodig gehad om die ongekeurde Italianer Lorenzo Sonego op die Arthur Ashe-stadion te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-761-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-305-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….