Sportnuus: 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Die tweede en laaste toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland het uiteindelik in ‘n baie groter tweestryd ontaard. Die Proteas is in hulle tweede beurt uitgeboul vir 235, wat aan die Swartpette ‘n wenteiken van 267 lopies gestel het – ʼn rekordtelling op Seddon Park in Hamilton om te jaag. David Bedingham, wat sy eerste toets-honderdtal aangeteken het, was Suid-Afrika se sterspeler terwyl William O’Rourke vyf paaltjies laat kantel het. Die tuisspan het teen uitskeityd op dag drie op 40 vir een gestaan, met nog 227 lopies nodig om te wen.
# Rugby: Frankryk sal volgende naweek sonder sy kaptein, Gregory Alldritt, moet klaarkom in die Sesnasies-kragmeting teen Italië in Parys. Hy het ‘n snywond aan die linkerbobeen opgedoen tydens die tweede-ronde-kragmeting met Skotland in Edinburgh wat Frankryk naelskraaps met 20-16 gewen het. Alldritt sal vir twee tot drie weke buite aksie wees, maar behoort gereed te wees vir die laaste twee wedstryde in die reeks – teen Wallis op die tiende van volgende maand, en teen Engeland ses dae later. Charles Ollivon sal waarskynlik die span in sy afwesigheid aanvoer.
# Motorsport: Red Bull se baas, Christian Horner, woon vandag die span se 2024-motorbekendstelling by. Hy staar bewerings deur ʼn vroulike kollega in die gesig, maar ontken kategories dat hy onbehoorlik en manipulerend opgetree het. Hy is Vrydag as deel van ʼn Red Bull-ondersoek wat weke kan duur, agt ure lank deur ʼn prokureur ondervra. Die 50-jarige Horner is sedert 2005 Red Bull se spanhoof. Hy het in sy termyn by Red Bull beleef hoe sewe renjaers as wêreldkampioene gekroon en ses vervaardigerstitels verower is.
In nóg motorsport-nuus sê Lewis Hamilton hy was emosioneel met die bekendstelling van sy Mercedes vir die nuwe Formule Een-seisoen. Hy het onlangs aangekondig dat hy einde vanjaar by Ferrari gaan aansluit en sê die vooruitsig om in die beroemde rooi motor te jaag, was net te moeilik om van die hand te wys. Die Britse jaer het ses van sy sewe wêreldkampioenskaps-titels gewen sedert hy in 2013 by Mercedes aangesluit het, maar kon die afgelope twee seisoene nie ‘n wedren wen nie. Hy is uiters gemotiveerd om sake vanjaar te verander.
# En, laastens, Sokker: Die gewese Nederlandse internasionale sokkerspeler, Quincy Promes, is in absentia vir ses jaar tronk toe gestuur weens dwelmsmokkelary. Die streekshof in Amsterdam het beslis die 32-jarige Promes wat in die Russiese premierliga vir Spartak Moscow gespeel het, was in 2020 by die invoer en uitvoer van honderde kilogram kokaïen betrokke. Sy regspan sê hy sal teen sy vonnis appelleer. In nog ‘n saak verlede jaar is Promes in absentia tot 18 maande tronkstraf gevonnis vir aanranding. Dit hou verband met ‘n bakleiery in 2020 toe hy sy neef in die knie gesteek het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….