Nuus 13:00
BULLETIN 1 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Godfrey Lebeya ontken ‘n vriendskap met die sakeman Panganathan “Timmy” Marimuthu
# Bidvest belê in ‘n nuwe terminaal vir vloeibare petroleumgas in Richardsbaai
# En tennis: Wawrinka se laaste Grand Slam-toernooi eindig in die eerste ronde op Flushing Meadows
# Die voormalige hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, sê hy het nie ‘n bepaalde vriendskap met die omstrede sakeman Panganathan “Timmy” Marimuthu nie. Lebeya het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het die eerste keer in Desember 2010 van Marimuthu bewus geword tydens ‘n ondersoek na aanstellings binne Misdaadintelligensie. Hy sê die aanstellings is ‘n maand lank gestaak, maar 290 mense is daarna aangestel:
# Die nywerheidsreus Bidvest versnel ‘n kapitaaluitgaweplan van 2,5-miljard-rand met ‘n tweede terminaal vir vloeibare petroleumgas in Richardsbaai, KwaZulu-Natal. Uitvoerende groepshoof Mpumi Madisa sê die reusebelegging in sy vragafdeling weerspieël die onderneming se vertroue in die land se ekonomiese vooruitsigte. Suid-Afrika het ‘n beduidende voorsieningstekort aan vloeibare petroleumgas. Plaaslike energie-ontleders sê die uitbreiding kan help om die uitwerking van beurtkrag te beperk, die verspreiding van gas te versterk en gaspryse mededingender te maak. Dis ‘n betroubare en bekostigbare keuse vir huishoudelike kook- en verhittingsdoeleindes.
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal ná verlede week se verwoestende kits-oorstromings op die grens tussen Nepal en Tibet het meer as ‘n duisend bereik. Die getal vermistes is aangepas na drie-duisend-916, insluitend meer as 600 werkers wat vermoedelik in moddergevulde tonnels in hidrokragprojekte vasgekeer is. Minstens 16 mense is in die Chinees-beheerde Tibet dood en minstens 546 word vermis. Nepal se eerste minister, Balendra Shah, sê die rampe wat tans ervaar word, is weens klimaatsverandering en verg dringend aandag.
# Tennis: Die Switserse veteraan Stan Wawrinka se laaste Grand Slam-toernooi het in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope tot ‘n einde gekom toe hy teen die Italianer Matteo Berrettini verloor het. Die 41-jarige Wawrinka tree die einde van die seisoen uit na hy in 2002 op 17 ‘n beroepspeler geword het. Hy het drie Grand Slam-titels ingepalm en in 2008 saam met Roger Federer goud gewen in die mans-dubbelspel op die Olimpiese Spele in Beijing. Wawrinka het gesê hy sal die spel mis, terwyl hy staande toegejuig is op die Grandstand-arena.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-907-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-368-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, het Ilitha Labantu geprys vir sy bydrae in die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord. Die Kaapstadse nie-winsgewende organisasie fokus op die bekamping van geweld teen vroue en kinders en bied slagoffers ondersteuning. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê alle beskikbare hulpbronne moet aangewend word om geweld teen vroue en meisies hok te slaan noudat geslagsgeweld en vrouemoord tot ‘n nasionale ramp verklaar is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….