Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Daar is baie op die spel in die naweek se laaste groepsronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die voorste twee spanne op die punteleer, Glasgow Warriors en die Stormers, het reeds tuis-kwarteindstryde verseker, terwyl sewe spanne om die oorblywende ses kwarteind-plekke meeding. Die Stormers speel môre in Wallis teen Cardiff, die vierde-geplaaste Bulle pak Benetton in Pretoria, en die vyfde-geplaaste Leeus pak Munster in Limerick. Die Haaie, wat nie die volgende fase kan haal nie, is in die tiende posisie, en speel in Durban teen Zebre.
Intussen speel die Bulle se Springbok-staatmaker, Willie le Roux, môre sy 400ste eersteklas-wedstryd. Die 36-jarige veelsydige agterspeler het sy loopbaan by Boland begin voor hy vir spanne soos Griekwas, die Cheetahs en die Haaie gespeel het voor hy na Loftus Versfeld verhuis het. Hy het sedert 2013 101 toetse vir Suid-Afrika gespeel, 75 punte aangeteken en tot talle drieë bygedra. Le Roux sê hy het nog geen planne om uit te tree nie.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Scottie Scheffler, is onder sewe voorlopers op die PGA-kampioenskap na ‘n openingsronde van 67 op die Aronimink-gholfklub in Pennsilvanië. Die Amerikaner is gesamentlik eerste saam met die Suid-Afrikaner en nog vyf spelers. Rory McIlroy van Noord-Ierland is sewe houe agter op vier bo-syfer 74. Scheffler sê dit was ʼn moeilike openingsronde:
# Krieket: Die vyfmalige kampioen, Chennai Super Kings, het die veelsydige Suid-Afrikaner Dian Forrester opgeroep om die beseerde Brit Jamie Overton te vervang vir die res van die Indiese Premierliga-seisoen. Overton se 14 paaltjies is CSK se tweede-meeste hierdie seisoen. Hy moes weens ‘n beenbesering onttrek. Die 24-jarige Forrester het sy eerste internasionale wedstryd in Maart vir Suid-Afrika gespeel teen Nieu-Seeland. Hy sluit by CSK aan teen ‘n bedrag van ongeveer 1,3-miljoen-rand.
# En sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, het ʼn groep van 23 aangekondig om Japan volgende maand in twee internasionale vriendskaplike wegwedstryde te pak. Thembi Kgatlana en Bongeka Gamede, wat oorsee speel, is terug in die groep nadat hulle die onlangse kamp in Algerië weens beserings misgeloop het. Ellis sê die kragmetings bied geleentheid om spelers te toets in aanloop tot die Afrikabekertoernooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….